LifestyleNews

Inperking mors met ekonomie, maar oud-Valie ontpop as entrepreneur!

Vandag kan hy nie genoeg dankie sê vir die uitstekende opleiding wat hy by Hoërskool Driehoek gekry het nie

Min mense het die Covid-19 inperking se effekte vrygespring. Sommige het in die afgelope 19 maande hul werk en inkomste verloor, wat dit ‘n daaglikse stryd maak om kos op die tafel te sit.

Vir oud-Vanderbijlparker Chris van de Vyver kon die inperking nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. Hy en sy gesin het hulle in Secunda gevestig, waar hy ‘n deftige gastehuis sou bedryf, maar toe kom Covid met die gepaardgaande “lockdown”. Met die aankondiging van die grendelstaat in Maart verlede jaar, moes die eienaars van die beplande gastehuis net daar alle toekomsplanne laat vaar omdat die beleggers onttrek het. Daarmee saam het Chris se droom om dit te bestuur, platgeval. Maar lees verder…. die storie het ‘n goeie einde!

Toe Chris jare gelede as jong Vanderbijlparkse seun sy vakke vir hoërskool moes kies, het hy verskeie opsies oorweeg. Sy ma, mev. Hermien van de Vyver, het voorgestel dat hy die gasvryheidsbedryf as toekomstige loopbaan oorweeg. “Mense moet eet en slaap,” was haar logiese raad. Chris het van die idee én van kos gehou en by Hoërskool Driehoek, wat ‘n hotelskool het, ingeskryf.

Vandag kan hy nie genoeg dankie sê vir die uitstekende opleiding wat hy hier ontvang het nie. “Die onderwysers het ‘n groot invloed op my lewe gehad en hulle is steeds na aan my hart – veral Juffrou Harris en Juffrou Bester. Hulle het hul allerbeste gedoen om ons te lei en aan die praktyk bloot te stel. Só het ek op skool reeds betrokke geraak by ‘n onthaal- en ‘n spitbraai-onderneming waar ek waardevolle ervaring opgedoen het,” sê Chris.

Nóg ‘n Driehoek-onnie wat sy stempel deeglik op Chris afgedruk het, is mnr. Kallie Schultz, wat bedryfsekonomie vir hom aangebied het. “Hy het jou op ‘n ferm manier bymekaargemaak en gemotiveerd gehou. Sy bekende sêding was dat jou beginsels, jou hart en jou fokus op die regte plek moet wees – dan maak jy ‘n sukses. Ek hou dit steeds in gedagte,” sê Chris.

Na skool het Chris ‘n kwalifikasie in Hotelbestuur by ’n instansie in die Noord-Kaap verwerf en drie jaar by ‘n vakansieoord in die Vrystaat gewerk voordat hy

Engeland toe is en by die bekende Langtry Manor aangesluit het. Hier moes hy onder begin – eers as portier en later as gourmet-sjef, en uiteindelik as sjef de partie (in beheer van ’n bepaalde kosafdeling).

Na vyf jaar by dié spoghotel is hy as sjef in die Britse weermag aangestel. Dit was ‘n interessante, nuwe uitdaging waar drie etes daagliks vir 1 500 soldate voorberei moes word. Dit was ’n groot aanpassing, sê Chris, want nou moes hy skielik gróót hoeveelhede kos maak. Boonop moes dit smaaklike maaltye wees wat aan die veeleisende offisiere se behoeftes sou voldoen.

Toe sy visum 18 maande later verstryk, is Chris terug na Suid-Afrika waar hy onder andere by bekende vakansie-oorde en ‘n konferensiesentrum gewerk het voordat die aanloklike geleentheid om ‘n gastehuis in Sekunda te bedryf, oor sy pad gekom het. Sy vrou, ‘n onderwyseres, het ‘n pos by ‘n hoërskool op die dorp gekry. Die toekoms het blink gelyk vir die Van de Vyfers, maar toe kom die Covid-inperking en trek ‘n streep deur al hul planne.

“Ek moes dringend aan iets anders dink en het toe met weeklikse etes begin,” vertel Chris. Hy het begin om weekliks ’n spyskaart van tipiese kos vir aand-etes voor te berei en uit te stuur om die pot aan die kook  te hou. Hy het intussen sy eie onderneming, Esculency, geregistreer en verskaf nou etes aan die publiek sowel as aan instansies soos ‘n ouetehuis. Buiten die algemene maaltye maak hy ook peuselhappies en kos vir spesiale geleenthede. Hy bak en versier ook geleentheidskoeke, hoewel hy erken dat sy vrou eintlik die ekspert met dié taak is.

Sy hart trek met ‘n punt na die Vaaldriehoek, waar sy ma en goeie vriende steeds woon, maar omdat sy onderneming se kombuis tans by ‘n ouetehuis gevestig is, moet hy uiters versigtig wees en die minimum reis. “Dit sal ‘n katestrofe wees as ek die virus moet opdoen en die bejaardes in gevaar stel,” sê hy.

Tyd vir ontspanning is min, maar wanneer Chris nie agter die kospotte staan of tyd met sy vrou en twee kinders bestee nie, kweek hy bonsai-boompies of werskaf in sy groentetuin. “My motto is dat sente en sekondes tel. In hierdie tyd waarin ons leef, kan jy nie meer stadig wees of geld mors nie. Dan is daar moeilikheid,” sê hy. Hy beplan om sy onderneming mettertyd as ‘n franchise na ander dorpe uit te brei. Hopelik sien die Vaaldriehoek binnekort ook takke vsan Esculency hier!

***************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button