HealthNews

2001 se ‘hartbaba’ word mondig!

Die spanning en drama was egter alles die moeite werd en komende Maandag, 8 November, kan Michelle se mondigwording met vreugde gevier word.

VANDERBIJLPARK. – Mense wat die sprankelende student Michelle Hartmann vandag ontmoet, sal moeilik glo dat dié jong meisie as baba in 2001 in lewensgevaar was weens ‘n hartprobleem waarvoor sy dringend ‘n operasie moes ondergaan.

Vaalweekblad het destyds berig dat die Hartmann-gesin hulle in ‘n storm bevind het omdat hul mediese fonds geweier het om vir dié lewensnoodsaaklike operasie te betaal. Haar ouers, Gary en Daleen Hartmann, het egter vir hul kind se regte opgestaan, ‘n dringende hofbevel teen die fonds gekry en seker gemaak Michelle kry haar operasie.

Hoewel Michelle met haar geboorte gesond gelyk het, het prof. S. Levin van die Morningside Kliniek in Sandton vroeg in 2001 vasgestel dat sy ‘n groot mediese probleem gehad het:

Sy moes ‘n dringende opehartoperasie ondergaan omdat sy net een aar gehad het wat bloed in en uit haar hartjie na die res van haar liggaam vervoer het. Dokters sou ‘n sintetiese aar moes byvoeg en haar hartklep met ‘n varkklep vervang.

Sy moes die operasie binne ‘n week kry omdat sy toe reeds ernstige tekens van hartversaking getoon het. Morningside Kliniek het ‘n magtigingsnommer of ‘n deposito van R199 000 benodig voordat hulle Michelle kon opneem.

Die gesin se mediese fonds het geweier om ‘n magtigingsnommer vir die operasie te verskaf en die Hartmanns het ‘n aansoek vir ‘n dringende hooggeregshofbevel teen die fonds ingedien.

Op die laaste dag van die week wat prof. Levin aanbeveel het dat Michelle die operasie moes ondergaan om haar lewe te red, het hulle die saak in die hooggeregshof teen die mediese fonds gewen.

Michelle was net drie maande oud met haar eerste operasie. ‘n Jaar later moes haar ouers hoor dat haar liggaam die varkklep verwerp het en in 2003 is dit met ‘n skenkerklep vervang.

In Januarie 2011 moes Michelle weer ‘n opehartoperasie ondergaan om dié klep met ‘n beesklep te vervang.

Met haar sesmaandelikse opvolgondersoek is bevind dat haar liggaam besig was om dié klep ook te verwerp. Gedurende haar tienerjare was daar verskeie pogings om die klep oop te druk met behulp van ‘n ballonnetjie wat vanaf ‘n aar in haar lies tot by haar hart opgedruk is.

Omdat sy nog so jonk was, wou die hartspesialis ‘n toekomstige hartklepvervanging so lank as moontlik uitstel. Dit is toe wel in 2015 gedoen en sedertdien kyk Michelle net vorentoe. Sy moet wel nog jaarlikse opvolgondersoeke ondergaan.

“Die hofsaak waardeur ons destyds is, was ‘n tyd wat ek geen ouer toewens nie,” sê ma Daleen.

Die spanning en drama was egter alles die moeite werd en komende Maandag, 8 November, kan Michelle se mondigwording met vreugde gevier word.

Sy is nou ‘n tweedejaar B.Com.-student in Ekonomiese Wetenskappe aan die NWU Vaal en wil graag eendag haar eie baas wees soos haar ouers, wat albei bekendes in plaaslike sakekringe is.

Michelle, wat ook ‘n jonger suster Danielle (18) het, voer ‘n aktiewe bestaan en het gholf gespeel in haar skooljare aan Hoërskool Transvalia. Sy is ook ‘n vurige Sharks-ondersteuner. Sy is mal oor die natuur en bootry op die Vaalrivier, hoewel sy erken dat sy nie regtig ‘n kampmens is nie.

Michelle sê sy onthou gelukkig min van die operasies, die pyn en die ongerief, en geniet haar lewe vandag ten volle.

Vandag is Michelle Hartmann ‘n lewenslustige student wat komende week haar 21ste verjaardag vier.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gary en Daleen Hartman in 2001 in die hospitaal by Michelle (inlas), wat daardie jaar haar eerste opehartoperasie gekry het. Foto: Vaalweekblad-argief

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

********************************************************************************

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button