Die dae van tjekboeke, bankboekies en lank staan
Die meeste van ons het mos maar êrens 'n vakansiewerk of twee gedoen, myne was in die bank, en ek is mos nie 'n syfermens nie ...
Daar is ‘n groot bank in Vanderbijlpark se middedorp wat onlosmaaklik deel is van my geskiedenis.
Ek het baie ure van my lewe daar deurgebring. Ma het destyds besluit dit is te alleen vir haar by die huis met my in die kleuterskool, en toe gaan werk sy in die bank.
Kleintyd het ek menige middag bo in die personeelkamer deurgebring. Dit het half belangrik gevoel om agter die glasmure toegelaat te word.
Ons was ‘n generasie wat saam grootgeword het omdat ons ma’s saamgewerk het.
Die meeste van die ander het sommer vroeg al vakansies begin ‘casual’.
Ek het vasgeskop. Die syfers, die roetine, die elke-dag-dieselfde het my nie aangestaan nie.
Dankbaar was ek wel, want ek het ‘n studentelening en ‘n bankbeurs gehad om my op my geliefde PUK te hou.
Hier in my derde jaar het ek ook vakansies in die bank begin werk. Eerste plek waar hulle my losgelaat het was die skakelbord!
Nie baie opwindend nie, maar werk is werk.
Die volgende vakansie raak die bestuur braaf en besluit ek moet navrae leer. Dit het nie te sleg gegaan nie.
Lang ure se staan (ons het nie stoele gehad soos vandag nie) en daardie jare was ons permanent besig met liassering.
Die tjekboeke, die indekskaarte …
Ek is selfs op ‘n kursus gestuur. Twee weke by hoofkantoor in Johannesburg. Bly toe in ‘n grênd hotel wat vandag ook nie meer bestaan nie.
Ma het bekommerd gelyk, maar ek doen niks half nie en het die eksamen met gemak geslaag.
Deur universiteit en diensjaar het ek vakansie na vakansie agter daai navrae toonbank deurgebring.
Toe raak die bestuur mos erg verbeeldingryk en baie dapper … Ek moes teller word.
Ek het eers gesê nee, te veel syfers. Maar is oortuig op ‘n YSKOR-betaaldag.
Daai jare het baie mense nog nie kaarte gehad nie, net spaarboekies.
Op YSKOR-betaaldae het ons vroeër oopgemaak, want die mense het half agt al om die blok gestaan.
Dit was navrae se werk om daar voor in die bank te sit en solank onttrekkingstrokies in te vul en in die boekies te skryf.
Daai boekies … party was donkerbruin van vuil. Meeste werkers het ook van nagskof in die ry geval, daar was nie tyd vir stort nie.
Dis toe dat ek vrywillig as teller aanmeld.
Die kursus het ek maklik geslaag, maar ek as teller in die praktyk is iets waaroor ek nie praat nie.
Ek was een van daardie bankamptenare wat dringend indekskaarte gaan bêre het as ek iemand met ‘n sak kleingeld in die ry gesien het.
Ons moes nog alles met die hand tel.
Ek was die een wat geweier het om bankkoste van pensioenarisse te verhaal.
Wat gereeld kaalvoet agter die toonbank gestaan het, tot my ‘signing officer’, wat ook my ma was, se ontsteltenis.
Die Vrydag wat die staatsdepartement my gebel het om te vra of ek die Maandag by hulle as kommunikasiebeampte kan begin, was een van die beste oomblikke van my lewe.
In my opgewondenheid het ek my datumstempel langs die telefoon laat lê.
Dit was ‘n doodsonde!
My Ma het my omtrent uitgevreet. Toe sê my cheeky 20-plus self vir Ma: “Nou fire my”.
Vir my “straf” het ek die Saterdag nog vir oulaas teller gespeel, en dit was hoeka een van daardie besige, einde van die maand dae …
