Voormalige lede van Paroolraad in hof oor ‘hulp’ aan gevangene
Richard Kabi, ‘n bekende voormalige Vrystaatse sakeman, is in 2008 daaraan skuldig bevind dat hy ernstige ekonomiese misdade en bedrog ten bedrae van sowat R19 miljoen gepleeg het.
DENEYSVILLE. – Wat sou twee senior lede van ‘n gevangenis se paroolraad motiveer om onwettig aansoek te doen dat ‘n gevangene se langtermynvonnis na ‘n gemakliker korrektiewe toesig verander moet word?
Dít is ‘n vraag waarop Groenpunt Korrektiewe Dienste se voormalige voorsitter en ondervoorsitter van die Paroolraad, Hlaudi Litsoane en Ester Makiri, nou in die hof antwoorde moet gee.
Litsoane en Makiri het verlede week in Kroonstad se streekhof verskyn op aanklagte van bedrog en regsverydeling wat daarmee verband hou dat hulle na bewering in 2015 ‘n misleidende en onwettige aansoek by die Vrystaatse Hooggeregshof ingedien het om ‘n gevonniste misdadiger, Richard Kabi, se tronkstraf na korrektiewe toesig te verander, terwyl hy volgens wet nie vir so ‘n verandering gekwalifiseer het nie.
Kabi, ‘n bekende voormalige Vrystaatse sakeman, is in 2008 daaraan skuldig bevind dat hy ernstige ekonomiese misdade en bedrog ten bedrae van sowat R19 miljoen gepleeg het. Hy het ook ‘n leiersrol in ‘n internasionale misdaadsindikaat gespeel. Kabi se oortredings het onder meer 30 aanklagte van bedrog, bendebedrywighede en geldwassery ingesluit. Die hooggeregshof in Bloemfontein het hom destyds ‘n vonnis van meer as 455 jaar opgelê, wat gelyklopend as 22 jaar se direkte tronkstraf by Groenpunt-gevangenis in die Vaaldriehoek uitgedien moes word.
Die streekhof in Kroonstad het verlede week tydens Litsoane en Makiri se verskyning gehoor dat die hooggeregshof aanvanklik Kabi se vonnis van direkte tronkstraf na korrektiewe toesig toegestaan het, maar dat die besluit later omgekeer moes word toe dit aan die lig kom dat die besluit geneem is op grond van ‘n misleidende en bedrieglike aansoek deur die beskuldigdes. Die Staat moes toe dringend ingryp om die hoëhof-bevel tersyde te laat stel sodat Kabi sy vonnis in die tronk uitdien. Litsoane en Makiri se saak is tot 22 Januarie 2022 vir verdere verhoor uitgestel. Albei is op borgtog vrygelaat en hul werkskontrakte by die Paroolraad is nie hernu nie.
* Streekhoflanddros Collin Nekosie was verlede week die voorsittende beampte en adv. Vic de Bruyn het namens die Staat verskyn.
******************************************************************************
