News

14 Moordaanklagte: Taxibestuurder veg vir borgtog

Die 23-jarige bestuurder het nie voorheen om borgtog aansoek gedoen nie, omdat daar vir sy lewe gevrees is.

VANDERBIJLPARK – Die minibus-taxibestuurder wat vroeër vanjaar in ’n botsing met ’n vragmotor betrokke was waarin 14 skoolkinders gesterf het, het om borgtog aansoek gedoen en sal waarskynlik Woensdag hoor of sy aansoek geslaag het.

Ayanda Dludla (23) het Vrydag (4 September) vir ’n formele borgtogverhoor in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn. Hy staar 14 aanklagte van moord, drie van poging tot moord en ’n aanklag van bestuur sonder ’n permit in die gesig.

Hoewel hy vroeër van sy borgtogaansoek afgesien het, het sy prokureur, Reward Nxumalo, aan die media gesê hulle probeer bloot om hom op borgtog uit te kry sodat hy ’n behoorlike verdediging teen die staat kan voorberei. 

Volgens Nxumalo is sy kliënt spyt en sukkel hy steeds om die tragedie te verwerk.

Die staat het Dludla se borgaansoek egter hewig teengestaan. Staatsaanklaer Titus Daniso het aangevoer dat Dludla nie aan die nodige borgtogvereistes ingevolge Artikel 60 en Skedule 5 van die Strafproseswet voldoen het nie.

“Hy het nie die toets geslaag nie en het nie bewys dat hy ’n geskikte kandidaat is om op borgtog vrygelaat te word nie,” het Daniso gesê.

Anders as vorige hofverskynings wat groot skares betogers en ’n stampvol openbare gallery gelok het, was gister se verhoor deur slegs ’n handjievol mense bygewoon. 

Nxumalo het aangevoer dat die kalm atmosfeer juis bewys dat dit vir Dludla veilig is om na die gemeenskap terug te keer.

Hy het ook beweringe van die hand gewys dat Dludla na familie in KwaZulu-Natal mag vlug, en verduidelik dat hy by sy moeder sal bly indien borgtog toegestaan word.

“Hy bring nie die borgtogaansoek uit arrogansie nie, maar wend hom tot die land se regstelsel hangende die afhandeling van die saak,” het Nxumalo afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button