
VAALPARK. – Enkele dae nadat drie kinders in die Oos-Kaap gesterf het omdat hulle glo kitsnoedels geëet het, is inwoners van die Vaaldriehoek op hol gejaag deur ‘n WhatsApp-boodskap wat beweer dat nog ‘n vrou gesterf het nadat sy soortgelyke noedels geëet het.
Soos dikwels met sulke sensasionele, onbevestigde boodskappe gebeur, het die storie gou ‘n stertjie gekry dat die swanger vrou by ‘n privaathospitaal in Vaalpark dood is.
Die drie Oos-Kaapse kinders wie se dood wel bevestig is (twee dogtertjies van onderskeidelik 7 en 11 jaar en ‘n seuntjie van 4 maande) het gesterf nadat hulle die naweek van 31 Oktober ‘n pakkie gekookte kitsnoedels geëet het wat by ‘n spaza-winkel in New Brighton gekoop is. Al drie het kort nadat hulle dit geëet het maagkrampe gekry en begin braak. Volgens Eye Witness News het die babaseuntjie op pad hospitaal toe gesterf en die dogtertjies ‘n rukkie na hom.
Lykskouings sou op die kinders gedoen word, maar tot dusver is die oorsaak van dood nog nie bekendgemaak nie.
Teen Woensdag, verlede week, is ‘n ontstellende WhatsApp-stemboodskap wyd in die Vaaldriehoek versprei waarin ‘n ongeïdentifiseerde vrou, wat glo in ‘n hospitaal se ongevalle-afdeling werk, mense waarsku om nie kitsnoedels te eet of vir kinders te gee nie. Sy beweer in die boodskap dat ‘n swanger vrou in die hospitaal se ongevalle-afdeling gesterf het kort nadat sy soortgelyke noedels geëet het.
Die boodskap lui onder meer:
“Ek het nou net ‘n swanger vrou in ongevalle gehad … sy is dood. Sy het vandag (*handelsnaam weerhou) noedels geëet by die huis en toe begin kla van maagpyn en begin bloed opgooi. Soos ek sê, sy het minder as vier ure nadat sy (*) noedels geëet het…. is die swanger vrou nou dood. So asseblief, versprei dit maar en sê vir julle vriende wat kindertjies het want ek weet dis ‘n maklike ding om vir hulle te gee.”
Dit was nie lank nie of ‘n plaaslike hospitaal se naam is aan die boodskap en die vrou se dood gekoppel. Bekommerde Vaalweekbladlesers het op die koerant se Facebook-groep en per WhatsApp by ons nuuskantoor navraag gedoen of dit waar is dat die vrou in die Netcare Vaalpark-hospitaal oorlede is. Vaalweekblad het by Netcare se hoofkantoor navraag gedoen en vasgestel dat dié hospitaal glad nie van so ‘n voorval weet nie.
Volgens me. Razina Kader, hoofbestuurder van Netcare Vaalpark-hospitaal, het geen swanger vrou wat simptome ervaar het nadat sy noedels geëet het, behandeling by dié hospitaal se noodafdeling gevra of ontvang nie.
“Daar is nie so ‘n persoon in die hospitaal behandel, opgeneem of in ons hospitaal dood nie,” het sy in ‘n skriftelike verklaring gesê.
Die hospitaal het voorts gesê hulle verwelkom die geleentheid om die vals gerug wat op sosiale media versprei is, reg te stel.

‘Leer kinders om nie kos uit stukkende verpakkings te eet nie’ sê dieetkundige
VANDERBIJLPARK. – ‘n Plaaslike dieetkundige wat deur Vaalweekblad oor haar standpunt oor die veiligheid van kitsnoedels uitgevra is na die dood van drie kinders in die Oos-Kaap, sê mense moet baie versigtig wees voordat hulle ‘n wêreldbekende handelsnaam wat biljoene dollars werd is, belaster en betrek by hul “bangmaakpraatjies”.
“Kitsnoedels is weens die hoë sout- en styselinhoud nie ‘n aangewese stapelvoeding vir kinders óf volwassenes nie, maar in matige hoeveelhede sal dit opsigself beslis nie ‘n mens se dood veroorsaak nie,” sê die dieetkundige, wat verkies om nie geïdentifiseer te word nie.
“Die feit dat die kinders wat gesterf het, se kitsnoedels by ‘n spaza-winkel gekoop is, laat my wonder of dit dalk per ongeluk met ‘n soort gif besmet was. Dié informele soort winkels plaas sekerlik rottegif tussen hul gebergde voorraad uit. As ‘n kospakkie skeur en daar per ongeluk ‘n paar stukkies rotgif of van die sogenaamde “Two-step”-gifpoeier tussen die voedselinhoud beland, kan dit lewensgevaarlik vir ‘n mens of dier wees wat dit inneem. ‘n Verdere gevaar is dat rotte en muise op gebergde voorraad kan ontlas en urineer en sodoende siektes met verwoestende gevolge kan oordra.
“Selfs die beste kettingwinkels het las van rotte en muise, daarom maak ek voor gebruik altyd seker ek ontsmet alle verpakkings en kyk dat daar geen skeurtjies of gaatjies in ‘n boksie of sakkie is wat ek gekoop het nie. Leer jul kinders ook om geen kos of lekkers te eet as dit uit ‘n pakkie kom wat stukkend of half-oop is nie,” is haar raad.

************************************************************************************************
