DA in Midvaal wen 12 van 15 wyke – ANC behou net 3 in ‘townships’
Raadsheer Freddie Peters se massiewe Midvaal-wyk is geografies byna so groot soos Johannesburg se totale munisipale gebied!
MEYERTON. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Midvaal het in die afgelope verkiesing in 12 van die 15 wyke in die munisipale gebied gewen. Hulle kon hierdie keer selfs daarin slaag om die De Deur-wyk, wat hulle in 2016 met 50 stemme verloor het, met ‘n meerderheid van ses stemme in te palm.
Die ANC het nou slegs drie wyke in die townships oor. Daar is 30 raadslede in Midvaal waarvan die DA die oorgrote meerderheid sal behou.
DA-raadslid Freddie Peters, voorsitter van Midvaal se kiesafdelingsbestuur en tans Speaker van die Midvaal-raad, is een van die ervare raadslede wie se harde werk ‘n groot bydrae gemaak het tot die DA se sukses in vorige sowel as die afgelope verkiesing.
Peters het tussen 1988 en 1999 doelbewus aan ‘n strategie gewerk om ‘n munisipale gebied vir Midvaal deur die Munisipale Afbakeningsraad te laat goedkeur wat nie outomaties in die ANC se hande sou beland nie. Vaalweekblad het in daardie jare berig dat hy vir dié doel voorstelle uitgewerk het, beswaarskrifte laat teken en optogte georganiseer het. Na vyf jaar van verdeelde ANC-heerskappy in die gebied (vanaf 1995 tot 1999), is Midvaal se grense uiteindelik op grond van Peters se afbakeningsvoorstelle goedgekeur en in die Staatskoerant gepubliseer.
Peters het ‘n doelbewuste strategie gevolg om die ANC se greep op die plattelandse gebiede te breek deur hulle vas te pen in hul “strongholds” sodat hulle nie doeltreffend in die platteland kon organiseer nie.
Na die verkiesing van 4 Desember 2000 is die ANC se mag in Midvaal gebreek en kon ‘n vierparty-koalisie begin om die munisipaliteit te regeer. Die tesourier het destyds met ‘n R100-noot uit sy eie sak ‘n bankrekening by Absa Bank vir die Munisipaliteit gaan oopmaak want die ANC het teen daardie tyd reeds alles wat hulle kon, uit die munisipale koffers gevat.
Van daardie punt af het die DA met elke verkiesing net beter gevaar en hul beheer versterk. Die res is geskiedenis. Vandag spog Midvaal met die titel as bes bestuurde munisipaliteit in Gauteng, en ook as een van die ses topmunisipaliteite in die hele Suid-Afrika.
Vir Peters was dit ‘n dankbare en trotse oomblik toe die verkiesingsuitslae vroeër die maand kom en hy weer as wenner van Wyk 1 aangekondig is. Hy is een van Suid-Afrika se munisipale raadslede met van die grootste wyke in die land: Die helfte van Midvaal se gebied is in Wyk 1. Dit strek vanaf Fourways by Drie Riviere tot oorkant die N1-tolhek net Suid van Heidelberg, dan Suidwaarts tot teen die Vaaldam en terug met die Vrystaat se grens tot weer by Fourways. Dit sluit landelike gebiede soos Groendenne, Jakkalsdraai, Platkoppies, Kudung, Tikelo, Bantu Bonke, Bloekompoort, Vaal Marina en Mamello in. Die N3-tolhek val ook in Peters se wyk. Geografies is Wyk 1 byna so groot soos Johannesburg se totale munisipale gebied.
Buiten vir sy werk as raadslid is Peters ook baie betrokke by die Vaaldriehoekse Kultuurnetwerk, waar hy nie net vir sy eie taal en kultuur veg nie maar ook mense van alle ander agtergronde aanmoedig om hul kultuurerfenis te waardeer en te bewaar.
Vir die aktiewe Peters is daar min sprake van rus want tussen sy ander pligte deur, boer hy ook nog met skape en beeste op sy Schoongezicht-landbouhoewe teen die Suikerbosrand Natuurreservaat.

******************************************************************
