VANDERBIJLPARK. – ‘n Paar maande gelede was die munisipale sypaadjie voor HJ van Rensburg Prokureurs se gebou in die dorp se sakesentrum nog ‘n onooglike, oorgroeide terrein. Vandag is dit vinnig besig om vorm aan te neem as ‘n netjiese tuin, wat ongetwyfeld ‘n spogterrein gaan word om besoekers met trots in die sakesentrum te verwelkom.
Mnr. Herman Janzen van Rensburg van die bekende prokureursfirma op die hoek van Frikkie Meyer-boulevard en FW Beyersstraat, sê die onnet sypaadjie het hom so gegrief dat hy en die praktyk besluit het om self iets aan die saak te doen.
“Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gaan duidelik nooit daarna omsien nie. Ons as sakemense en professionele lui moet self skouer aan die wiel sit om ons dorp reg te ruk,” sê hy.
Sy praktyk het in die afgelope maande agt vragte en 36 swartsakke vol papiere en ander vullis uit die oorgroeide terrein laat wegry, 500 meter se gras gelê, ses ton gruis gegooi, 80 meter se plastiek onder die gruis gelê en 10 liter gif gespuit.
Hulle het ook ‘n kontrakteur aangestel om vir die volgende 12 maande weeklikse instandhouding op HJ van Rensburg Prokureurs se koste te doen.
Die projek het boonop werk vir vyf mense geskep.
‘n Sleepwa is aangekoop om alles weg te ry, wat ook gebruik word om die prokureursfirma se liefdadigheidswerk by LifeLine te vergemaklik en om vullissakke by Pioneer House vir bejaardes weg te ry.
“Ons het die verfraaiingsprojek voor ons praktyk nie net vir ons en ons huurders aangepak nie maar ook vir die gemeenskap en die beeld van ons dorp as ‘n geheel,” sê Van Rensburg.
“Ek hoop dat alle besighede en gebou-eienaars ook sal moue-oprol en die inisiatief wat sakeman Fanie de Jongh by sy Palms-sentrum begin het, sal volg.”
“Ek hoop ook dat sypaadjies voor besighede én huise ons dorp oor ‘n paar maande weer ‘n vrolike voorkoms sal gee. Dit kan net suksesvol wees as elke gebou- en huiseienaar aktief betrokke raak.”
* Sakeondernemings wat met hul netjiese sypaadjies wil spog, is welkom om hul voor- en na-foto’s na rfichat@media24.com te stuur.



************************************************************************************************
