LifestyleNews

Riaan verras pragtige Erika met groot vraag … en kry die jawoord!

‘n Duidelik aangedane Erika kon haar oë nie glo nie. Voor haar op die verhoog het Riaan Viljoen gestaan - haar penmaat uit Kaapstad met wie sy al meer as vier jaar gekorrespondeer en aanlyn gesels...

VANDERBIJLPARK. – Die grasieuse Erika Labuschagne, sedert 2019 eienaar van die Mr & Miss Vaal Pageants, wou teen die einde van die groot jaarlikse gala-aand op 6 November nét begin ontspan toe die aand skielik ‘n onbeplande wending neem…

Dit was toe Erika se beste vriend van die afgelope 4½ jaar op die verhoog verskyn het en die seremoniemeester, Dave Hammond van IFM Radio, haar van agter die skerms terugroep verhoog toe vir die verrassing van haar lewe.

‘n Duidelik aangedane Erika kon haar oë nie glo nie. Voor haar op die verhoog het Riaan Viljoen gestaan – haar penmaat uit Kaapstad met wie sy al meer as vier jaar gekorrespondeer en aanlyn gesels het, maar nog nooit in lewende lywe ontmoet het nie. Danksy hul daaglikse geselsies en video-oproepe het hulle mekaar deur die jare baie goed leer ken.

Weens albei se sakebelange was daar egter nog nooit tyd vir kuier nie, maar die liefde het geblom en ‘n baie hegte lang-afstand verhouding het ontstaan.

Hoewel Riaan, ‘n sakeman van Kaapstad, al Erika se 2021 pageants aanlyn gevolg het, het hy in die stilligheid besluit om haar op die gala-aand persoonlik in Vanderbijlpark by die Emerald Hotel te kom verras.

Hy het in die geheim met Nicolene Venter, ‘n Miss Vaal-organiseerder, saamgespan, wat gehelp het om sy vlug en besoek vir Erika weg te steek. Boonop was daar ‘n baie spesiale geskenk in sy baadjie se bo-sak…

Dit was eers toe die seremoniemeester vir Riaan op die verhoog voorstel en Erika verbaas inkom, dat toeskouers besef het hier kom ‘n ding… Erika het breed geglimlag maar haar hand van verbasing voor haar mond gehou.

Riaan, wat intussen die mikrofoon oorgeneem het, het aan Erika gesê: “Ek het jou vreeslik baie lief met alles wat binne in my is. I love you en wil die res van my lewe…” Teen hierdie tyd het die toeskouers so hard gejuig dat sy woorde onhoorbaar was. Riaan het op sy een knie afgesak, ‘n boksie uit sy sak gehaal en gevra: “Sal jy met my trou?”

Erika was so aangedaan dat haar antwoord nie hoorbaar was nie, maar sy het agterna aan Vaalweekblad gesê sy het dadelik “Ja” gesê.

Die paartjie het mekaar daarna styf vasgehou in ‘n hartroerende oomblik, wat beslis die hoogtepunt en ‘n gepaste afsluiting vir vanjaar se deftige Mr en Miss Vaal-wedstryde was.

Die lieflike Erika, wat op die ouderdom van 47 maklik as ‘n meisie van in haar twintigs kan deurgaan, sê sy het glad nie getwyfel om die jawoord vir Riaan te gee nie. Albei was voorheen getroud, en albei weet dat dit dié keer vir altyd gaan wees.

“Ons het mekaar se harte leer ken voor hy die groot vraag gevra het en ek is bevoorreg om te kan sê my groot liefde is ook my beste vriend. Riaan is die liefdevolste, eerbaarste man. Hy is lief vir die Here en het ‘n hart van goud.” Sy erken met ‘n glimlag dat hy haar “so bietjie vasvat” as sy hom om haar pinkie probeer draai!

Oor die troudatum en waar die groot dag gaan plaasvind, kan Erika nog nie veel sê nie omdat alles so vinnig gebeur het. Al wat sy weet is dat sy en Riaan vir mekaar bestem is. Die paartjie het intussen darem kans gekry om mekaar nóg beter te leer ken. Sy het verlede naweek Kaap toe gevlieg om vir die eerste keer vir Riaan in sy tuisstad te gaan kuier, maar is weer terug in die Vaaldriehoek om aandag aan dringende werksverpligtinge te gee.

 

Riaan Viljoen op sy knie voor Erika terwyl hy haar vra om te trou.
Foto:
S. Brazier Photography
Die verloofde paartjie het intussen ‘n kans gekry om mekaar ook in lewende lywe te leer ken, toe Erika verlede week vir Riaan in die Kaap gaan kuier het.
Erika Labuschagne, eienaar van die Mr & Miss Vaal Pageants, was die titelhouer van Mrs South Africa Globe in 2019 en Queen of Africa in 2020.

 

* Kyk na die video waar Riaan die jawoord vra by hierdie skakel:

https://zaf01.safelinks.protection.outlook.com/?url=https%3A%2F%2Fscanmail.trustwave.com%2F%3Fc%3D20371%26d%3D1ZOX4S4L734bw2TEVSBwvt1VAJYa9mQ3uWnMN5zgcA%26u%3Dhttps%253a%252f%252fwww.youtube.com%252fwatch%253fv%253d3-Zmmt7Uv3Y&data=04%7C01%7Crfichat%40media24.com%7Cbf48a362cdee49ab32d608d9ab555b0f%7C10dc7c9659764601882c9ac7c2870ecc%7C0%7C0%7C637729205369548518%7CUnknown%7CTWFpbGZsb3d8eyJWIjoiMC4wLjAwMDAiLCJQIjoiV2luMzIiLCJBTiI6Ik1haWwiLCJXVCI6Mn0%3D%7C1000&sdata=xi1LDXe5kUt5mrrVSv%2BkQaea7tCkCrsdPExExOBkn3o%3D&reserved=0

****************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button