Laerskool D.F. Malherbe – want elke kind is uniek en belangrik!
DF het gelukkige leerders, want ons is ‘n familie. As ‘n familie speel ons voluit, leer ons voluit en leef ons voluit! In hierdie familie is elke leerder se persoonlike leuse: “Wees die beste jy wat jy kan wees!”
Deur skoolhoof Willem Botha
Laerskool D.F. Malherbe is ‘n tradisieryke skool met ‘n trotse geskiedenis.
Wat maak DF (soos die skool by die gemeenskap bekendstaan) anders as ander skole?
Wel, sekerlik die feit dat, as jy by DF se deure instap, jy deel word van die DF-familie.
DF se familiesukses word toegeskryf aan die pragtige leerders wat hier inskryf, die ondersteunende ouergemeenskap wat blyk uit die ouerbetrokkenheid op alle gebiede en die dinamiese en toegewyde onderwysers.
Ons leerders is onpretensieus en daag meestal kaalvoet by die skool op. Dit is die een plek waar jy as leerder van die skool nié deur die grootte van jou ouers se motor of huis, die waarde van jou selfoon, ensovoorts, jou gewildheid kan bepaal nie. Ons plat-op-die-aarde leerders gee om vir mekaar en ook vir hul gemeenskap. Daar word hard gewerk om by leerders ‘n trots te kweek vir die skool se gebruike, geskiedenis en tradisies.
Elke leerder word aangemoedig om gebalanseerd betrokke te wees en die beste binne sy/haar vermoë te presteer. Deur aan elke leerder die geleentheid tot deelname aan ‘n wye spektrum van aktiwiteite te bied, ontwikkel leerders hul volle potensiaal. Hulle presteer jaarliks in hul buite-kurrikulêre aktiwiteite en word gereken, met respek, as een van die beste skole in die omgewing. DF streef daarna om ‘n baie goed gebalanseerde skool te wees waar sport en kultuur ‘n regmatige plek in elke leerling se opvoeding en onderrig het. Gelukkige leerders is vir ons die toppunt van sukses.
Ons vaste oortuiging is om die leuse van ons skool, “KENNIS IS KRAG”, deel van elke leerder se lewe en wese te maak. Met ons Afrikaanse, Christelike aanslag, kweek ons toekomstige leiers.
Opvoeding en onderwys loop hand aan hand. Daarom is die vennootskap tussen personeel en ouers van onskatbare waarde. Met ons ondersteunende gemeenskap en ouers, is dit maklik om hande te vat tot voordeel van ons leerders. ‘n Dinamiese beheerliggaam maak ons personeel se hande in die proses van kwaliteit onderrig, sterk.
Ons skool is bekend vir sy uitstekende akademiese rekord en ons is trots op die handhawing van hoë akademiese standaarde in ‘n koesterende omgewing. Op akademiese terrein is vernuwing en kwaliteit onderrig ononderhandelbaar. Die pandemie het die wêreld om ons en ook die hele onderwysstelsel verander. DF het al groot treë op tegnologiese gebied gemaak en nog groter stappe word in die nabye toekoms beplan. Ons is ten volle verbind tot die verskaffing van dinamiese, moedertaalonderrig van uitnemende kwaliteit aan ons leerders.
DF het uiters bekwame en professionele onderwysers vir wie omgee vir ons leerders, ‘n prioriteit is. Dit maak ons ‘n familie. Personeelontwikkeling en kwaliteitonderrig staan voorop, want ons personeel is ook lewenslange leerders.
Hier by DF glo ons dat skoolgebaseerde sport ‘n belangrike deel van elke kind se totale opvoedkundige ervaring is. Wanneer kinders aan sport deelneem, is dit tot voordeel van hulle fisiese, sosiale en geestelike ontwikkeling. Om hierdie rede fokus ons op deelname, want om te wen is lekker, om deel te neem, nog lekkerder en om dit te geniet, die beste!
DF glo dat deelname aan ‘n kulturele aktiwiteit leerders help om beide sukses en mislukking positief te verwerk, asook om sosiale vaardighede te ontwikkel en nuwe vriendskappe te bou. Wanneer kinders op die verhoog optree, bou hulle selfvertroue en word hulle meer selfversekerd; wat dan ‘n positiewe invloed op hul selfbeeld en leierskapsvaardighede het. Daar word hard agter die skerms gewerk om DF se kulturele voetspoor te vergroot.
Ons DF-bytjies is netjiese, gedissiplineerde, respekvolle en hoflike leerders wat gesag aanvaar en skoolreëls eerbiedig. Ons leef hoë Christelike waardes uit sodat wanneer hulle DF verlaat, ons leerders volkome toegerus is vir die uitdagende lewe en eise wat op hulle wag.
DF het gelukkige leerders, want ons is ‘n familie. As ‘n familie speel ons voluit, leer ons voluit en leef ons voluit! In hierdie familie is elke leerder se persoonlike leuse: “Wees die beste jy wat jy kan wees!”

************************************************************
