Vermeende dieseldief op R59 vasgetrek
Tydens die uitvoering van hul Shanela II-operasionele pligte het die plaaslike SAPD inligting ontvang en dadelik opgetree.
SASOLBURG – ‘n 41-jarige man het in die Sasolburg-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde diesel.
Lede van die Sasolburg-snelwegpatrollie het op Woensdag, 16 September, hul Shanela II-operasionele pligte uitgevoer, toe hulle inligting ontvang het oor ‘n wit Toyota Hilux-bakkie wat na bewering by brandstofdiefstal in Carletonville betrokke was.
Die polisielede het dadelik op die inligting reageer en ‘n fynbeplande voorlê-operasie gehou.
Die verdagte voertuig is op die R59 opgemerk waar dit deur ‘n tweede Toyota Hilux begelei is.
Die voertuie is suksesvol voorgekeer, maar die bestuurder van een van die voertuie het uitgespring en die bosse ingevlug.
Met die deursoeking van albei bakkies is sowat 1 000 liter diesel in die een voertuig en nog 2 000 liter in die ander gevind.
Die totale waarde van die diesel word op sowat R105 000 geskat.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat een van die bakkies ook in Kroonstad gesoek word in verband met ‘n afsonderlike saak van brandstofdiefstal.
Die polisie se ondersoek duur voort.
