LifestyleNews

Uniestraat se liggies bring weer vreugde oor Kerstyd – (Aaanskakeling: 1 Desember)

Liggieskouspel bring weer hulde aan geliefde Odette

SASOLBURG. – Die Kersfeesliggies wat die Strydomgesin se huis en tuin in Uniestraat 30 tradisioneel gedurende die Desembervakansies versier, gaan hierdie Kerstyd weer vele asems wegslaan.

Die Strydoms bied al dekades lank die jaarlikse liggieskouspel by Uniestraat 30 in Sasolburg, aan. Eers was dit Pa Koos en Ma Zenda wat dit jaarliks as ‘n gemeenskapsprojek gedoen het om geskenke vir minderbevoorregte gesinne en kleingoed in te samel. Nadat Pa Koos een jaar van die dak afgeval het, het Odette, hul enigste dogter, besluit om die projek self te begin dryf. Sy was toe nog ‘n skooldogter van net 14 jaar oud. Vir die volgende 15 jaar het sy elke jaar nuwe planne beraam om die liggieprojek groter en mooier te maak. Sy het ook elke jaar ‘n optog in samewerking met die brandweer en plaaslike GPF gereël om saam deur die strate te ry terwyl Kersvader geskenkies of lekkergoed uitgedeel het.

‘n Groot tragedie het die Strydoms getref toe Odette op 31 Oktober verlede jaar op die ouderdom van 29 jaar in haar slaap aan hartversaking gesterf het. Die toekoms van die Kersliggieprojek het in die weegskaal gehang want haar ouers en seun, Shane, se hartseer was so groot dat die liggies die laaste ding in hul gedagtes was. Die gesin het uiteindelik tog deurgedruk en die Kersliggies in 2020 laat brand as ‘n huldeblyk aan Odette. Vanjaar maak hulle weer so: Op 1 Desember gaan die liggies aangeskakel word! Dit sal elke aand vanaf 19:00 tot omstreeks 21:30 brand.

Die Strydoms hou die liggieprag nooit net vir hulself nie. Hulle nooi elke jaar die Vaaldriehoek se inwoners om te kom stilhou en kyk, of selfs deur die erf te stap.

“Daar is vanjaar heelwat nuwe dinge om te sien; dingetjies wat Odette nog beplan het maar waarvoor daar nooit tyd was nie. Ons beplan ook ‘n Carols by Candle Light vir 16 Desember en almal is welkom om te kom luister of saam te sing,” sê Odette se ma, Zenda.

“Ons is lief vir Odette en mis haar steeds so baie, maar dit voel vir ons of sy van die liggies weet en kan sien wat ons doen. Ons doen dit om haar nagedagtenis te eer en om die vreugde van Kersfees te laat uitstraal,” sê Zenda.

Die Strydoms het ‘n kragopwekker aangeskaf sodat die liggies kan brand, selfs al is daar dalk kragonderbrekings of beurtkrag. Hoewel hulle nie vir donasies vra nie, is daar ‘n donasieboks as mense dalk ‘n bydrae wil maak vir die elektrisiteitrekening of vir petrol vir die kragopwekker – indien dit aangeskakel moet word. Enige geskenke of lekkergoed vir minderbevoorregte kinders sal ook baie waardeer word.

*********************************************************************************************

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button