VANDERBIJLPARK. – Hoe gemaak as jy op soek is na die ideale maat maar jy weet nie waar om te begin nie? Jy skryf natuurlik in vir Vaalweekblad se “Soek ‘n Maat”-rubriek! Vra maar vir Wynand Cooper, wat sowat 10 jaar gelede dié kans gewaag het en nie net sy ideale maat ontmoet het nie, maar ook sy trouvrou.
Wynand, wat destyds in Vanderbijlpark gebly het, was moeg daarvoor om sy lewenspad alleen te stap en het sy naam na Soek ‘n Maat ingestuur.
“Ek het gedink dit gaan niks oplewer nie, maar was verkeerd. ‘n Paar dames het my gekontak, maar ongelukkig was nie een van hulle vir my nie.
“Ek kry toe nóg ‘n SMS van ‘n ander dame wat my graag wou ontmoet, maar ek het my teen daardie tyd nie meer baie daaraan gesteur nie,” sê Wynand.
Hulle reël toe wel ‘n ontmoeting in Junie 2012, en toe Wynand die oulike Elmarie Britz sien, was hy dadelik halsoorkop verlief.
“Ek wou dit nie wys nie, want ek het gedink, na vanaand sien ek haar seker nooit weer nie,” sê hy. Min het hy geweet dat sy presies dieselfde oor hóm gevoel het.
“Ek het toe weer vir haar in Vereeniging gaan kuier en sy by my, en op 25 September daardie jaar het ons verloof geraak.”
Die paartjie spog vandag met ‘n seun van 8 en ‘n dogtertjie van 6, en is op 4 Mei 2019 amptelik getroud. Elmarie het pas gehoor dat sy twee maande swanger is met nóg ‘n kleinding.
“Wat ek probeer sê is dat die Soek ‘n Maat-hoekie regtig werk. As dit my kon help om my sielsgenoot te kry, kan dit vir ander ook werk,” sê Wynand.
Die egpaar en hul kinders het intussen na Krugersdorp verhuis, maar hulle volg die nuusgebeure in die Vaaldriehoek steeds op Ster en Vaalweekblad se elektroniese publikasies.
* Mense wat op soek is na ‘n maat, kan ‘n SMS stuur na 38210. Begin jou boodskap met “MAATS” en sê watter tipe persoon jy graag wil ontmoet. Verskaf ook ‘n bietjie inligting oor wie en waar jy is.


