Poskantoor-rowers vasgetrek danksy ma se vinnige dinkwerk
Paaie wat deur die rowers as ontsnaproetes gebruik kon word, is vinnig gesluit. Die verdagtes is uiteindelik in die Sharpeville-omgewing ingehaal.
SASOLBURG. – Drie rowers is Donderdag, 4 November vasgetrek en een in die been geskiet nadat hulle die poskantoor in Sasolburg beroof het. Die feit dat hulle kort na die voorval gevang en in hegtenis geneem is, is grootliks te danke aan die vinnige dinkwerk van mev. Anne B* van Vanderbijlpark, wat die betrokke dag toevallig in die poskantoor was.
Die drama waarin Anne en haar dogter beland het, is voorafgegaan deur ‘n besoek aan Vanderbijlpark se Poskantoor South by die Checkers-winkelsentrum. Hulle het gesien dat die poskantoor gesluit was en het na Sasolburg se poskantoor gery om ‘n paar pakkies te gaan pos.
Terwyl hulle in die tou in Sasolburg se poskantoor gewag het, het van die mense wat agter hulle in die ry was skielik vorentoe beweeg en by die poskantoorwerkers se werkarea ingebeur.
Anne se eerste gewaarwording dat daar groot fout was, was toe sy sien hoe die poskantoorwerkers agter die toonbank snaaks begin optree en uitmekaar spat. “Ek het twee jaar gelede ook ‘n rooftog in ‘n winkelsentrum beleef en het besef dit is weer sulke tyd,” sê Anne.
Sy het aan haar dogter gewys om na die agterste deel van die vertrek te skuifel en plat te gaan lê. “Die rooftog het agter ons rug plaasgevind. Ek het probeer om net heeltyd agter my dogter te bly om haar te beskerm as hulle begin skiet. Ek het gedink dis my laaste dag,” sê Anne.
“My dogter het ongemaklik in ‘n hoekie gaan sit want sy het ‘n tyd terug haar been gebreek en kon dit nie buig nie. Ek het gesien dat sy sit en bid. Omdat my selfoon daardie oggend gebreek het, het ek net ‘n klein leenfoontjie by my gehad wat nie my familie of ondersteuningsgroepe se kontaknommers op het nie, maar ek het geweet daar is polisie- en buurtwaglede se nommers op. Ek het net die woord “Help” na een van die nommers gestuur.
Ek het so gebewe en dit was so stil in die poskantoor dat ek nie meer wou tik nie. Ek het ‘n vriendin se pa op die vloer naby ons sien lê en die oom gevra om my te waarsku as die rowers naderkom want ek het agter ‘n muurtjie weggekruip en kon hulle nie sien nie. Ek tik toe “Gewapende roof in progress in Sasolburg poskantoor” en stuur dit na die Community Support Forum se WhatsApp-groep. Hulle laat weet toe dat hulp op pad is. My boodskap het blykbaar soos ‘n veldbrand versprei. Toe die oom sê die rowers is uit, is ek dadelik agterna en het aan omstanders gevra of hulle gesien het in watter voertuig en rigting die rowers weggery het. ‘n Vrou het gesê sy het gesien hulle het in ‘n wit BMW weggejaag. Ek het die besonderhede dadelik op alle reaksie-groepe geplaas,” sê Anne.
“Die Polisie en die Sasolburg Tactical Response Team was baie vinnig op die toneel en het die verdagtes dadelik saam met ander reaksiespanne begin agtervolg.”
Paaie wat deur die rowers as ontsnaproetes gebruik kon word, is vinnig gesluit. Die verdagtes is uiteindelik in die Sharpeville-omgewing ingehaal. Drie is gearresteer en een is in die proses in die regterbeen geskiet. Dit is nog onbekend hoeveel geld by die poskantoor geroof is en of alles teruggevind is. Die polisie het beslag gelê op die BMW, ‘n onbekende bedrag geld, ‘n poskantoorwerker se gesteelde selfoon, ‘n ongelisensieerde pistool en ‘n pellet-geweer.
“Dit is ongelooflik hoe mooi ons buurtwagte met mekaar en met die taktiese ouens en polisie saamgewerk het. Daar was ‘n pragtige kameraadskap. Dit is ‘n lekker gevoel om te weet die misdadigers is gevang. Ek het agterna ‘n stempos van ‘n reaksie-offisier af ontvang waarin hy my bedank vir my vinnige dinkwerk. Die boodskap help my om die trauma te verwerk. Ek is bly dat ek kon kophou en in die hitte van die oomblik op my voete kon dink, maar toe alles verby was, het ek begin huil,” sê Anne.
(*Anne B is ‘n skuilnaam om die ware identiteit van die vrou en haar dogter te beskerm).
************************************************************************
