News

Beseerde en vermiste troeteldiere… Dra uile hulle dalk weg?

Moet asseblief nie 'n heksejag teen uile begin nie! Hulle speel 'n noodsaaklike rol om rot- en muisplae in toom te hou. Maak liewer slim planne om julle troeteldiere te beskerm, soos wat 'n plaasvrou van Sasolburg doen.

VANDERBIJLPARK. – “Ek hoor dat groot getalle hondjies en katte deesdae met ongewone beserings by veeartse uitkom. In baie gevalle lyk dit of die diertjies baie ver geval het. Kan dit dalk wees dat uile verantwoordelik is vir sulke beserings en dat soveel klein troeteldiere deesdae verdwyn?”

Só vra ‘n Vaalweekbladleser wat vermoed dat haar geliefde kat ook amper uilkos geword het.

Annelize Truter van SE1, Vanderbijlpark, sê haar jong wyfiekat, Strepies, is ‘n fyngeboude, gesteriliseerde huiskat wat snags by haar en haar man in die bed slaap. Strepies het die nag van 18 November uitgegaan om vermoedelik ‘n draai te loop en het later met ‘n erg beseerde been, ‘n stukkende mond en krapmerke oor haar neusie teruggekom. Nadat Annelize op Facebook gelees het van ander troeteldiereienaars wie se katte en honde deur uile gevang of amper weggedra is, wonder sy nou of Strepies dalk ook ‘n onderonsie met ‘n uil gehad het.

“Ons vermoed ‘n uil het haar gegryp omdat sy skaars 2kg weeg en baie klein gebou is. Haar been was sleg gebreek en was erg verplaas, daarom moes die veearts opereer. As gevolg van die munisipaliteit wat traag is om vullissakke te verwyder, is hier baie rotte en muise in ons omgewing. My katte vang hulle gereeld en kom spog dan met hul trofeë. Ek het al gesien uile sit hier op die lamppale in die nag, maar die gedagte dat een van hulle probeer het om my kat te vang, het nie by my opgekom voordat ek die Facebook-inskrywings gelees het nie.

“Ons katjie is die Maandagoggend vir haar operasie by Driehoek Dierekliniek opgeneem. Die kliniek was oorval met beseerde diere. So, ek wil hierdie probleem net onder al die inwoners se aandag bring want volgens die Facebook-inskrywings vang uile maklik katte en kleinras honde soos Yorkies. Dit is vir my kommerwekkend dat die uile so dorp toe trek agter kos aan, en ons munisipaliteit dra by tot die probleem,” sê sy.

Annelize, wat ‘n leersentrum bedryf, sê Strepies is nou tuis en herstel mooi, maar is baie bang om buite te wees. Sy is nou skrikkerig en die geringste beweging laat haar vlug. “Die veearts het ook gesê sy moes hard en van baie hoog af op haar pootjies geval het, dis hoekom die been so sleg geskuif het,” sê Annelize

 

Inwoners vertel van skokkende ervarings met dié roofvoëls

Talle lesers het verlede week op Vaalweekblad se Facebookblad oor hul skokkende ervarings met uile gerapporteer.

Carisa Venter vertel dat ‘n uil hul boelterriër gevang het toe hy 12 weke oud was. “Gelukkig het die uil hom gelos toe ons almal begin skree,” sê sy.

Adriana Goussard sê sy moes twee weke terug om 02:00 die oggend hul klein hondjie met ‘n besem gaan red toe ‘n uil hom buite aangeval het. “Dit was een massiewe uil,” sê sy.

Conrad van Schalkwyk sê hy was ook ‘n ooggetuie daarvan dat ‘n uil sy babahondjie, ‘n Jack Russell, opgetel en weer laat los het. “Die uil het geskrik toe ek op hom skree,” sê Conrad. Sakkie Harmse sê sy miniatuur toypom van 2.5 kg was ook al amper uilkos. Monique Lendrum vertel dat uile nesgemaak het in ‘n boom in haar ouers se erf in Drie Riviere. ‘n Tyd gelede het die gesin met sonsondergang op die stoep gesit toe een van die uile afvlieg en hul kleinste katjie, wat reg langs die swembad gesit het, probeer gryp het. “Gelukkig het die katjie geskrik en gespring, maar toe beland sy in die water. Gelukkig is sy darem oukei.

“Die groot stress is, uile het vreeslike kloue. As hulle ‘n dier gryp met daardie kloue, kan die diertjie inwendig seerkry, al kom die uil dan agter hy kan hom nie oplig nie.”

Gert Nothnagel sê hy het al gesien hoe ‘n uil ‘n wilde konyn in die aand vang “…en daardie konyne is groter as my katte hier op die plotte.”

Amanda Wasserman Coetzer sê sy het in Bloemfontein al gesien hoe uile haar kuikens en hoenders vang. In meeste gevalle het die uile hul blitsaanvalle binne sekondes uitgevoer. Die hartseerste inligting kom van Elmarie Knott van Wyk. Sy skryf: “My seun-hulle het ‘n piepklein Jack Russeltjie gehad, omtrent so groot soos ‘n rot. Op ‘n dag was hy net skoonveld. Later die middag vind my man hom toe in die voortuin… sy hele pensie was oopgeskeur. Ons vermoed dat dit een van die uile was wat hier bly. Hier is vier van hulle.”

* Uile lewer ‘n groot bydrae om rot- en muisbevolkings in dorpsgebiede in toom te hou, veral in gebiede waar huishoudelike afval nie gereeld verwyder word nie. Moet dus nie uile onnodig verjaag of probeer doodmaak nie – hulle tree net volgens hul natuur op. Wees egter waaksaam as jou kleinras honde of katte alleen in jou erf is. Uile jag gewoonlik in die nag, maar hulle is volgens sommige inwoners van Vanderbijlpark en Vereeniging al hier opgemerk waar hulle gedurende die dag aktief was.

‘n Boervrou van die Sasolburg-omgewing laat weet dat sy uile afskrik deur opgeblaasde ballonne rondom haar hoenderhokke vas te maak, sowel as in die gebied waar haar hoenders en kuikens bedags loop. Sy maak ook ‘n opgeblaasde ballon aan die rugkant van elk van haar drie huishondjies se halsbande vas wanneer hulle saans uitgelaat word om ‘n vinnige draai te loop. Sy sê dit skrik uile af sodat hulle die troeteldiere nie probeer gryp nie, maar waarsku dat mense hul hondjies steeds moet dophou. As so ‘n  ballon deur ‘n tak stukkend gesteek word en dit bars, is die afskrikwaarde weg en sit jy met ‘n getraumatiseerde diertjie, sê sy. 

Rol ondertoe om foto’s van Strepies en  x-strale van haar beserings te sien.

Uile kan glo inderdaad klein diere optel. Daarvan getuig die foto hieronder, wat in 2012 in die Huffington Post geplaas is. Sulke foto’s is uiters skaars omdat uile binne sekondes aanval en min mense dit betyds sien om ‘n foto te kan neem. Lees die berig by https://www.huffingtonpost.co.uk/2012/10/29/owl-catches-cat_n_2038526.htm

******************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button