VANDERBIJLPARK. – Elke perdeliefhebber ken die passie en bewondering wat perde ontketen. En nou is hier ‘n boek, geskryf deur ‘n Vaaldriehoekse perdeliefhebber, Riana Pretorius, wat as ‘n gloeiende liefdesbetuiging aan ons eiesoortige pragdiere bestempel kan word.
Die boek, Die storie van die Suid-Afrikaanse perd, gee ook erkenning aan dié diere se prestasies en groot rol in die land se ontwikkeling, van die vroegste dae tot vandag.
Riana is ‘n toegewyde perdeliefhebber wat stalle in Vanderbijlpark bestuur, waar sy perde en ruiters afrig. Sy is ‘n Senior Boerperd- en SASA-beoordelaar wat glo dat perde ‘n manier het om jou meer van jouself te leer as van hulle.
Perde is nie inheems aan Suid-Afrika nie. Die eerste perde is meer as 350 jaar gelede deur Europese koloniste na die suidpunt van Afrika gebring. Dié mense en diere moes aanpas en oorleef in ‘n ongetemde landstreek. Die perde se rol om die kontinent bewoon- en bewerkbaar te maak, was deurslaggewend.
Die storie van die Suid-Afrikaanse perd vertel die kleurryke ontwikkelingsreis deur die geskiedenis van hierdie edel diere tot ‘n eg Suid-Afrikaanse ras, algemeen bekend as die Boerperd. Die bewaring en uitbreiding van die ras, bloedlyne en keuring, die ontstaan van telersgenootskappe, formidabele merries, kampioen hingste en hulle nageslagte word met interessante, geskiedkundige en ook artistieke kleurfoto’s gevier.
Die veranderende rol van die unieke en veelsydige Suid-Afrikaanse perderas tot top presteerder in verskeie perdesportdissiplines word ondersoek in ‘n lesersvriendelike erfstuk vir perdegeesdriftiges van alle ouderdomme
Meer nog: Telers, versorgers en ruiters se toewyding aan die perde word belig, want ‘n ware perdeliefhebber kyk nie na ‘n perd met sy oë nie, maar met sy hart.
Dié 256-bladsy sagtebandboek, uitgegee deur Corals Publishers, kos R350 (posgeld uitgesluit) en kan via Postnet (R99 posgeld) of Pep Paxi (R60 posgeld) versend word.
‘n Beperkte aantal boeke is beskikbaar en kan by 083 755 9986 of per e-pos by rianavec@yahoo.com bestel word.


********************************************************************************************
