LifestyleNews

Phillip ‘Mavusan’ sê tot siens – maar nie vaarwel

Phillip het verlede maand as DA-raadslid vir Wyk 5 in Emfuleni uitgetree en sien nou uit na ‘n rustiger bestaan.

VANDERBILPARK. – Mnr. Phillip Nothnagel, voormalige uitvoerende bestuurshoof van Vesco Community Enterprises (VCE), bekende oud-stadsraadslid en kampvegter vir mense in nood, het ‘n wye draai deur die korporatiewe wêreld en politiek gestap voordat hy uiteindelik die bestemming bereik het waar hy graag sy aftreejare wil geniet… in Feetjieland!

Phillip het verlede maand as DA-raadslid vir Wyk 5 in Emfuleni uitgetree en sien nou uit na ‘n rustiger bestaan.

Dié boorling van Graskop het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal voltooi en sy B.Com-graad en MBA sowel as verskeie ander kwalifikasies gedurende sy professionele loopbaan behaal. Na 26 jaar diens by ArcelorMittal het hy in 2001 as afdelingsbestuurder: Finansiële Rekeninge afgetree en is daarna aangewys as uitvoerende bestuurshoof van VCE.

Onder sy leiding het VCE ontwikkel tot ‘n leier op die gebied van gemeenskapsondernemings in die Vaaldriehoek. Phillip het tydens sy diensjare by VCE veral toegespits op welsyn- en humanitêre werk, gesondheidsorg-, opvoedkunde-, en misdaadvoorkomingsprojekte.

Danksy Phillip se toewyding en kommunikasievaardighede het die onderneming blywende bande met die regering, ‘n verskeidenheid gemeenskappe, georganiseerde sake-instellings sowel as met die Nasionale Vervolgingsgesag gevestig. Na 10 jaar diens het Phillip besluit om die plaaslike politiek aan te durf en is in Mei 2011 tot DA-raadslid in Emfuleni verkies. Hy het onder andere vier jaar in openbare skakeling in Sebokeng gewerk, waar hy die bynaam, Mavusan (’n persoon wat omgee vir die gemeenskap) gekry het. Dié bynaam het tot vandag toe onder die swart gemeenskap vasgesteek. Hy het in November vanjaar besluit om uit te tree nadat hy Wyk 5 die afgelope ses jaar in die Emfuleni-stadsraad verteenwoordig het.

“Phillip is ‘n toegewyde pa vir al vyf sy kinders, ‘n wonderlike eggenoot en ‘n lojale vriend. Hy is ‘n gesellige ou wat altyd ‘n grap vir enige situasie gereed het,” sê sy vrou, Retha.

Hy is ‘n ywerige tuinier en het ‘n paar jaar gelede ‘n feetjietuin by hul huis in Vanderbijlpark begin aanlê. Die tuin het klein begin nadat sy vrou ‘n paar feetjies present gekry het, maar intussen het dit so groot geword dat dit selfs deur nasionale TV raakgesien is en ‘n program daaroor op Kwêla uitgesaai is. Vandag is dit ‘n ware “fantasieland” met feetjies, dwergies, trolle en ander wonderlike karakters in toneeltjies uit onder andere Ierland en Skotland. Die popspeel-dorpie het selfs ‘n squatter-kamp, ‘n polisie- en treinstasie, restaurante, teetuine en winkels waar die feetjies na hartelus kan gaan koop!

Volgens Phillip kan hy in sy fantasietuin uiting gee aan sy kreatiwiteit, maar dit is ook die ideale manier om van die wêreld se stres en sorge te vergeet. Dit lok natuurlik ook die omgewing se oupas, oumas en kleinkinders wat daarvan hou om ‘n rukkie in Feetjieland te kom verdwaal!

Phillip is egter nog lank nie by die punt waar hy permanent gaan stilsit nie. Hy wil graag besig bly en ondersteuning gee aan verdienstelike gemeenskapsprojekte.

“My doelwit is steeds om ‘n verskil te maak in die gemeenskap van Emfuleni. Ek is besorgd oor ons streek en sal graag wil sien dat ons gebied weer die erkenning kry wat ons eens op ‘n tyd gehad het en wat ons so ryklik verdien. Ek sien egter ook uit na ‘n rustiger bestaan en om meer tyd saam met my wonderlike vrou, kinders en kleinkinders te kan deurbring,” sê hy.

* Om nog foto’s van sy fantasietuin te sien, besoek gerus die Facebook-blad wat deur sy seun geskep is: “My Dad’s Fairy Garden”.

Phillip Nothnagel
‘n Paar feetjies sit gesellig in die tuin en kuier.

Phillip Nothnagel bekyk een van die feetjies van naderby.
Nog ‘n toneeltjie in die fantasietuin.

*******************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button