Hoewel die grootste persentasie Valies die siekte oorwin het, het baie agterna met ‘n nuwe fenomeen kennis gemaak: Die sogenaamde “Lang Covid” wat maande kan aanhou.

Volgens navorsing wat oor Lang Covid deur die King’s College in Londen en die gesondheidsmaatskappy Zoe uitgevoer is, kan die langtermynsimptome en komplikasies die volgende insluit: Chroniese moegheid, asemgebrek, versnelde hartklop, delusies, beroertes, slapeloosheid, verlies aan smaak/reuk, niersiekte, mobiliteitskwessies, hoofpyne, spierpyne en koors.
Vaalweekblad het die afgelope weke inligting onder ons Facebooklesers ingesamel waaruit dit blyk dat baie inwoners wat van die siekte herstel het, ook deur langtermynsimptome geteister word. Desire Stalmann sê haar smaak en reuk het eers na 14 maande teruggekeer. Natus Ferreira sê hy het hartprobleme opgedoen weens bloedklonte. Annette du Preez het nierversaking ontwikkel en voel steeds baie depressief.
Hier is nog terugvoer van ons lesers:
Karine Reinhardt: Ek het lank na Covid nog gebewe, angsaanvalle gehad en het nou tinnitus en gehoorverlies.
NJ Breedt: Ek het Augustus Covid gehad, hare val verskriklik uit en naels is verskriklik sag en skeur in. Geheueverlies en baie angstig. Smaak: ek kan slegs met tye soet en sout proe maar nie wat dit was nie. Reuk dieselfde, kan nie altyd ruik nie, net sekere reuke… Baie goed proe en ruik vir my soos ‘n stinkgoggaboom.
Ansie Cato: Het Mei verlede jaar Covid gehad. Net gevoel of ek erg sinus het. Sukkel nog met kopsere en moegheid maar verder okei. Kan nadat my smaak en reuk teruggekom het nie Coke of koffie drink nie. Maak my baie naar.
Grant Cameron: Het einde Junie Covid gekry. Net matige simptome soos koors, lyfseer, voel pap, reuk en smaak verloor. Na die tyd baie moeg. So paar weke terug oor- en keelinfeksie gekry. Sukkel om te herstel. Immuunsisteem is laag, brain fog, angstigheid en depressie.
Nicolene du Plessis: My lewe is nie meer dieselfde na Covid. nie. Covid het die spiersiekte fibromyalgia by my getrigger. Nou sit ek met ekstra seer spiere, brein fog, duisligheid en ek is baie moeg. Kan nie eers kar bestuur nie. Maar glo met baie gebede sal ek gesond word.
Danny Ackerman: Verlede jaar September Covid gehad. Nou hoë bloeddruk. Hoes. Kopseer. Altyd uit asem uit.
Koekie Campher: Covid het hartversaking by my veroorsaak.
Annelie Venter: Ek het nou hoë cholesterol en konstante moegheid, en hart wat lek a.g.v. ‘n bloedklont wat deur my hart is en drie kleppe geskeur het. Dis ‘n sieldodende siekte met baie newe-effekte en gevare, jou vel bly konstant droog en vervel, ek was drie weke in die hospitaal.
Alf Laurianne Ueckermann: Ek het al twee keer Covid gehad. Met albei kere was dit net hoofpyne gewees. Augustus het ek baie siek geword. Opgeneem in hospitaal, oorgeplaas na ‘n ander hospitaal. Was in ICU vir ‘n paar dae en het toe ‘Covid lungs’ gehad. Ek is nou baie vergeetagtig, my smaak is weg en ek sukkel nog baie met my longe.
Karika van Dam Paulsen: Hoofpyn Hoofpyn Hoofpyn vir maande! En moegheid vir geen rede. My hare val ook erg uit as ek hare was.
Marlene Kleynhans: Geheueverlies definitief, en meer gereelde kopseer.
Kristelle van der Merwe: My pa (64) het Covid opgedoen. Vyf weke in hospitaal waarvan vier weke in ICU. Hy het huis toe gekom met suurstof. Was toe nog 6 weke op suurstof maar darem nou af. Waar hy voorheen nooit probleme gehad het nie, sukkel hy nou met sy hart en longe.
Louise van der Merwe: Ek en my man het ook in Junie Covid erg gehad. Hy is op 12 Julie oorlede aan Covid, ek sukkel nog met reuke – dis of alles dieselfde ruik – ek noem dit Covid-reuke. Ek kan ook nog na vier maande nie my man se dood verstaan nie, voel vir my of hy nog hier is, want ek kon nie deel in sy siek wees en sy begrafnis nie, ek was hond siek in die hospitaal – dis erg vir my.
* Vaalweekblad wens al ons lesers wat nog siek is of simptome ervaar, ‘n spoedige en volkome herstel toe.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
