Man en twee kleuters ernstig beseer in Vanderbijlpark
Die man het kritieke beserings opgedoen en is per noodhelikopter hospitaal toe vervoer. Die twee kleuters het ook lewensondersteunende behandeling op die toneel ontvang en is ook hospitaal toe geneem.
OPDATERING: Vaalweekblad het vanaand (18 Desember 2021) met leedwese verneem dat mnr. André Olivier (27), die man wat vanoggend in ‘n botsing met ‘n sekuriteitsvoertuig betrokke was, aan sy beserings beswyk het. Sy pa, mnr. Andries Olivier, het die tragiese nuus omstreeks 21:00 vanaand op Vaalweekblad se Facebook-groep bekendgemaak. Vaalweekblad se innige meegevoel aan André se familie. ‘n Ander familielid het vroeër vanmiddag laat weet dat die kleuters gelukkig nie so ernstig beseer is as wat aanvanklik gevrees is nie. Albei was in die hospitaal opgeneem maar is intussen ontslaan.
- Ons gedagtes en gebede is by die familie
****************************************************************
Lees die oorspronklike berig, soos ontvang van ER24, hier onder:
VANDERBIJLPARK. – Vyf mense is vanoggend in ‘n botsing tussen ‘n veiligheidswa en ‘n bakkie in Vanderbijlpark beseer. Die ongeluk het ‘n rukkie voor 09H30 in Ravelstraat plaasgevind.
Volgens ‘n verslag van ER24 het paramedici van dié nooddiens kort daarna saam met die Polisie op die toneel aangekom en die bestuurder van die bakkie, ‘n 24-jarige man, in die pad aangetref. Twee kleuters was reeds uit die voertuig verwyder en was met paramedici se aankoms in die arms van omstanders. Volgens ER24 het die man kritieke beserings opgedoen. Hy het gevorderde lewensondersteunende behandeling nodig gehad om sy toestand te stabiliseer. Hy is deur ‘n ander private diens se mediese helikopter na ‘n privaathospitaal vir verdere noodbehandeling vervoer. Die twee kinders, ‘n seun en ‘n meisietjie, het ook lewensondersteunende behandeling ontvang voordat hulle na Mediclinic Emfuleni vervoer is. Twee veiligheidswagte wat in die veiligheidsvoertuig was, het ligte beserings opgedoen en is deur ‘n ander nooddiens op die toneel behandel en ook hospitaal toe vervoer.
* Vaalweekblad se gedagtes en gebede is by al die beseerdes en hul gesinne.
