Groot oomblik toe Charmaine haar vrees oorwin en weer self loop!
Hoewel die vrees om te val haar aanvanklik teruggehou het om sonder krukke te probeer loop, het sy onlangs dié stap gewaag en geslaag - en nou stap sy die wêreld vol op haar kunsbeen.
VEREENIGING. – Twee jaar nadat Charmaine Burger (25) se regterbeen so erg in ‘n ongeluk beseer is dat dit uiteindelik geamputeer moes word, is dié dapper jong vrou weer op die been – letterlik én figuurlik! Hoewel die vrees om te val haar aanvanklik teruggehou het om sonder krukke te probeer loop, het sy onlangs dié stap gewaag en geslaag – en nou stap sy die wêreld vol op haar kunsbeen.
Charmaine en haar verloofde, Herman Bronkhorst (29), was op 3 November 2019 met hul motorfiets op pad huis toe na ‘n kuier by haar ouers in Vereeniging, toe ‘n trok sy vrag op die R59-snelweg tussen Redan en Meyerton verloor het. Die saamgeperste aluminiumblokke het die hele pad vol geval, direk voor hul aankomende motorfiets.
Met impak is Herman se ribbes ernstig beseer en hy is na ‘n plaaslike hospitaal vervoer. Charmaine het verskeie beserings opgedoen, waarvan haar regtervoet en -been die ergste was. Sy is aanvanklik na die Sebokeng-hospitaal vervoer en van daar af na die Baragwanath-hospitaal, voordat sy na die Johannesburgse Algemene Hospitaal oorgeplaas is. Sy is per ambulans teruggebring na Vereeniging Mediclinic, waar die dokter haar voet en ‘n gedeelte van haar been wou amputeer. Sy het gepleit dat hulle haar been moes probeer red, waarna sy na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas is vir spesialisbehandeling.
Eksterne skroewe is toe aangebring om haar vergruisde beendere vir vier maande lank te spalk in die hoop dat dit sou genees. “Die pyn was ondraaglik. Nie net liggaamlik nie maar ook psigies, verstandelik en geestelik. Daar was in die volgende 15 maande baie slapelose nagte en baie op-en-af doktersbesoeke,” sê Charmaine. Met haar besoek aan die Baragwanath-hospitaal vroeg vanjaar, het dokters bevind dat haar infeksietelling te hoog was.
Hulle kon nie langer veg vir haar been en voet nie. Sy is na die Sebokeng-hospitaal teruggestuur, waar haar voet en ‘n gedeelte van haar been toe op 11 Februarie afgesit is. Sedertdien moes Charmaine leer om by haar nuwe lewe met net een been aan te pas. Sy moes ook leer om sogenaamde spookpyne, waar die brein steeds pyn in die geamputeerde ledemaat registreer, te hanteer. Hoewel sy mettertyd ‘n prostese gekry het, het haar amputasie-stompie te vinnig gekrimp en het sy van haar krukke afhanklik gebly om oor die weg te kom.
Sy moes tot in Oktober wag vir ‘n gemaklike nuwe prostese, maar steeds was haar vrees om sonder krukke te loop en dalk te val, te groot om sonder dié hulpmiddels te probeer loop.
“Onlangs, toe ek en my aanstaande skoonma by die huis sit, bel my pa en sê, ‘My kind, moenie bang wees om te probeer loop nie. Dis soos fietsry. Mens vergeet nie vinnig hoe nie.’ Na ons oproep sê ek vir myself: Charmaine, staan op sonder jou krukke. Vertrou jou voet. Jy’t so bitter lank gewag en gesukkel. Nou is dit jou tyd’. Ek het opgestaan en my eerste treë sonder my krukke gegee. Mense met ‘n normale kapasiteit om rond te beweeg sal dalk nie die gevoel verstaan wat jy as ‘n gestremde persoon ervaar as jy weer kan loop nie… Ek was kinderlik opgewonde. My emosies was all over the place! My aanstaande skoonma het ‘n video geneem en ons het dadelik my ouers ge-videocall. Hulle was so vol trots en blydskap. Ek het ook my verloofde gebel en ons was in trane! Daar is steeds daaglikse uitdagings wat ek moet aanpak, maar ek loop elke dag beter met my prostese,” sê Charmaine.
Nou lê die toekoms voor en sy sien met groot vreugde daarna uit om volgende jaar haar studie in ‘n skoonheidsrigting te voltooi. “Ek is van plan om daarna met my Ongelukkefonds-geldjies my eie salon te open. Dit was nog altyd my passie. As ek mense kan laat goed lyk, voel ek goed,” sê dié sprankelende jong dame. Sy bedank graag Riding For A Limb vir hul hulp, sowel as almal wat haar op ‘n daaglikse basis ondersteun.
Kyk by hierdie skakel na die video waar sy vir die eerste in twee jaar weer sonder hulp begin loop: https://www.youtube.com/watch?v=P5sxzjTG4y0
Foto onder: ‘n Greep uit die video toe Charmaine vir die eerste keer na die ongeluk sonder hulp begin loop het!
Foto’s onder – ‘n kykie in die lewe van Charmaine en haar verloofde, Herman – voor en na die motorfietsongeluk waarin albei ernstig beseer is.

WAARSKUWING: DIE FOTO’S ONDER IS VAN CHARMAINE SE BEEN VOORDAT DIT GEAMPUTEER IS. DIT KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL. MOENIE AFSCROLL AS JY WEET DAT JY ONTSTEL WORD DEUR ERNSTIGE BESERINGS EN WONDE NIE.

*******************************************************************************************
