MEYERTON. – “Sien jy daardie meisie? Met haar gaan ek trou!” Dit was die woorde van Johan van Schalkwyk aan sy neef, meer as 50 jaar gelede, toe hy sy oë die eerste keer op die fraaie Sannie van der Merwe gelê het.
Die paartjie het mekaar meer as vyf dekades gelede by die verjaardagpartytjie van Sannie se niggie, Suzet, ontmoet. Net soos Johan, het Sannie haar hart dadelik verloor toe sy hom die eerste keer sien!
Die liefde het behoorlik vir die twee boorlinge van Vereeniging geblom en op 18 Desember 1971 is hulle in die NG Gemeente Drie Riviere-Oos getroud.
Hulle het verlede week hul 50ste huweliksherdenking gevier en hul troetelnaam vir mekaar is “Myne”.
“Hulle noem mekaar ‘Myne’ want toe hul getroud is, het albei in die kerk vir mekaar gesê: ‘Nou is jy myne’. Dis so dierbaar vir ons,” sê hul dogter, Naomi Cloete.
“Hulle het sterk Christelike waardes en ons was en is steeds ‘n baie hegte gesin. Daar was altyd baie grappies in die huis waar ons grootgeword het. Ons is almal musikaal en my pa en broer maak nou nog lekker boeremusiek saam. Ons ouers was en is steeds baie lief vir dans. My pa het dwarsdeur sy lewe baie hard gewerk en is ‘n uiters netjiese werker. My ma is lief vir lees, skryf soms haar eie gedigte en is ook lief vir mooi musiek,” sê Naomi.
Buiten Naomi is die Van Schalkwyks ook geseën met ‘n seun, Sampie, en drie kleinkinders, Rynardt en Heinrich Cloete, en Minka van Schalkwyk, vir wie hulle almal baie lief is.
“My ma en pa vul mekaar aan en doen alles saam. Hulle is diep lief vir mekaar en daardie liefde is te sien in alles wat hulle doen,” sê Naomi.
Die egpaar, wat albei nog gesond is, het intussen Vrystaat toe verhuis en woon nou tussen Bethlehem en Reitz. Hul kinders en kleinkinders woon onderskeidelik in Meyerton en Wellington. Hoewel hulle mekaar min sien, reis die familie so gereeld as moontlik om bymekaar te kuier.




***********************************************************************
