VANDERBIJLPARK. – Daar was verlede week ‘n miernes van bedrywigheid in Louis Trichardt-boulevard voor die Palms-winkelsentrum toe sakeman Fanie de Jongh se span die jaarlikse Kersfeesliggies aangebring het.
“Bring gerus die kinders en kom kyk saans na die liggies. Kersvader kan nou maar kom. Hier is nie slaggate in die paaie in die Palms se omgewing nie, die stormwaterdreine is skoon en die Kersliggies brand,” sê hy.
Die statige palmbome voor die winkelsentrum spog elkeen met ‘n breë, rooi Kersfeesband om die stam; die netjiese tuine op die middelmannetjie is in ‘n spogtoestand en die grasperke is welig en groen. Die stoepe van die sentrum spog ook reeds met pragtige, kleurryke Kersversierings teen die plafonne.
De Jongh en sy personeel is al bekend vir die mooi versierings wat elke jaar oor die Feestyd by die sentrum aangebring word. Belangstellendes kom soms van ander dorpe om spesiaal daarna te kom kyk.
De Jongh maak egter nie net sy eie winkelsentrum mooi nie. Dié sakeman is ook gereeld betrokke by projekte in ander dele van Vanderbijlpark in ‘n poging om agteruitgang te stop en die dorp te verfraai.



