LifestyleNews

Vryheidsfront Plus se Kersfees- en Nuwejaarsboodskap – Dr. Pieter Groenewald

'Die jaar 2022 gaan nuwe uitdagings en geleenthede oplewer wat ons moet aangryp in Geloof en die hoop wat ons uit Kersfees put.'

 

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier

 Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, se Kersfees- en Nuwejaarsboodskap 2021:

Die feestyd van Kersfees en Nuwejaar laat ʼn mens onwillekeurig terugdink aan die jaar wat verby is.

Vir die Vryheidsfront Plus was dit ʼn besondere jaar van prestasie met die plaaslike regeringsverkiesing van 1 November. Dit was ook harde werk en ʼn jaar, wat na my mening, ʼn keerpunt was vir ons party en vir Suid-Afrikaanse politiek.

Vir die eerste keer regeer die ANC in al drie die metro-munisipaliteite in Gauteng nie.

Die VF Plus vorm deel van dié veelparty-regerings en ook van vele ander koalisies regoor die land, onder meer in Mogale City (Krugersdorp), Thabazimbi, George, Metsimaholo (Sasolburg), Cederberg en Breede Vallei.

Die groot aantal koalisieregerings op munisipale vlak, skep hoop vir die toekoms. Dit skep die geleentheid waar die ANC tot onder 50% op nasionale vlak en in verskeie provinsies gedwing kan word en waar veelparty-regerings in die belang van alle Suid-Afrikaners gevorm kan word.

2021 was ook ʼn besonder moeilike jaar vir Suid-Afrika. Dit was ʼn gekompliseerde jaar van inperkings, onsekerheid, hartseer, vrees, woede, frustrasie, verlies, polarisasie, uitdagings en probleme.

Elkeen van ons het sekerlik ook ons persoonlike uitdagings in die jaar gehad. Baie van ons het geliefdes aan die dood afgestaan of was self bitter siek.

Die politiek skep ook baie onsekerhede wat twyfel in die gemoedere van mense saai.

Die toenemende vraag is wat is ons toekoms, hoe veilig is ons, sal ons ekonomies oorleef en sal ek nog ʼn werk hê. Sommige is reeds werkloos en wonder of hulle ʼn werk gaan kry om vir hul gesin te kan sorg.

Die wonderlike oor hierdie onsekerhede is dat Kersfees daar is aan die vooraand van die einde van die jaar. Die Kersboodskap van God wat ons so lief het dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het om ons moed te gee en te laat weet by Hom is daar altyd hoop.

Daarom moet ons met nederigheid ons uitdagings op ons knieë voor ons Hemelse Vader lê, want dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel. Dit is ook die Vryheidsfront Plus se uitgangspunt.

Einde van die jaar is ‘n tyd vir dankie sê. Die VF Plus is dankbaar teenoor sy lojale ondersteuners wat trots ons ondersteun. Hulle verstaan waaroor dit werklik in Suid-Afrika gaan. Hulle ondersteuning maak ons sterk.

Die jaar 2022 gaan nuwe uitdagings en geleenthede oplewer wat ons moet aangryp in Geloof en die hoop wat ons uit Kersfees put. Deur harde werk en ywer sal ons oorwin.

Geniet u vakansie saam met u gesin en geliefdes en mag u die ware boodskap van Kersfees ervaar en geniet. Mag die uitdagings van die nuwe jaar met nuwe hoop en moed aangepak word.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button