LifestyleNews

Kersfees… en die trauma as jy ‘n geliefde verloor het

Die fase van aanvaarding is die punt waar 'n mens besluit om aan te gaan met jou lewe en die gedeelte van jou lewe wat nog voorlê, weer voluit te leef.

Die trauma om ‘n geliefde te verloor

Die seer na ‘n geliefde se dood gaan lê diep in ‘n mens. Dit is soos ’n seer tand wat jy probeer misborsel, maar elke kort-kort vergeet jy en dan is die pyn weer daar. Jou lewe verander in ’n oogwink onherroeplik en elke mens hanteer die trauma op ’n ander manier. Die hoeveelheid tyd wat elkeen nodig het om die trauma te verwerk, verskil ook.
Só sê Johan Kloppers, ’n slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.
“Die rede waarom dit moeilik is om trauma te hanteer, is omdat dit ’n kognitiewe, emosionele en sensoriese impak op jou het. Elkeen moet die geleentheid gegun word om op sy of haar eie tyd en manier deur die fases van trauma te werk. Emosionele ondersteuning bly egter van uiterste belang,” sê hy.
Hoe lank is normaal vir ’n rouproses? “Daar word algemeen aanvaar dat ’n gemiddelde rouproses sowat twee jaar neem. Elke mens hanteer dit anders, en elke persoon sal op ’n unieke manier deur die proses gaan. Gewoonlik moet die persoon eers deur die gevreesde eerste jaar van herdenkings gaan. Dit is die eerste verjaardag waar jou geliefde nie by is nie, die eerste Kersfees sonder hom of haar, en die eerste herdenking van ’n huwelik of sterfdatum. Wees geduldig met jouself, en weet dat party dae baie moeiliker gaan wees as ander. Een dag mag jy dalk beter voel, net om die volgende dag wakker te word en weer totaal platgeslaan te voel. Dit maak jou nie abnormaal nie. Dit maak van jou net ’n gewone mens,” sê Johan.
Sy raad is dat mens moet aanvaar daar gaan verlange wees en dat dit nie moontlik is om die verlede te verander nie. Al waaroor jy beheer het, is die hier en nou. Dit is belangrik dat jy weet dit wat was (gister) is weg, dit wat is (nou en hier), is kosbaar en dit wat wag (môre) kan nie beheer word nie. “Wees wie jy is, voel hoe jy voel, doen soos jy goeddink en wees net jou unieke self.”
Die fase van aanvaarding – wat ook van persoon tot persoon verskil – is die punt waar ‘n mens besluit om aan te gaan met jou lewe en die gedeelte van jou lewe wat nog voorlê, voluit te leef. Dit is ook die punt waar jy weer na ander kan begin uitreik, normaal kan dink, kan leef, lag en liefhê.
* Vaalweekblad se innige simpatie aan almal wat hierdie Kerstyd deur die intense verlies en hartseer van ‘n geliefde se dood gaan.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button