Kobie Ströh skryf na aanleiding van ‘n onlangse Facebook-debat oor hoe Vereeniging weer verfraai kan word:
Die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk, waar verskeie organisasies en individue reeds ingeskakel het, het reeds ‘n begin gemaak om Vereeniging se voorkoms te verbeter.
Die Vredesmonument is netjies. Harde werk, hande min, maar die resultate is daar.Die klein monumentjie wat verlate in Voortrekkerstraat gestaan het, is reeds veilig aan die voet van die Vredesmonument.
Die Konsentrasiekamp Begraafplaas is ook al mooi onder beheer. Dit is ‘n begin.My voorstel is dat elke besigheid in die middestad net voor sy eie plek skoonmaak, ook die middelmannetjie. Plant iets moois daar. Die entrepreneurs moet hul eie omgewing of plak-plek skoon hou. Saans moet hulle al hul gemors voor Markpark opruim. Die karwagte kan gerus ook die straat help skoonhou.
Die munisipaliteit moet elke dag vullis verwyder sodat asblikke nie so oorvol raak nie. Gaan verwyder saans die kratte en bokse van die straatverkopers en verbrand dit. Hulle sal gou leer om nie alles net so te los nie.Verwyder en verbrand die straatslapers se beddegoed, veral dié wat aan plante op die middelmannetjie opgehang word.
Die polisie moet beskerming bied teen ‘robotbendes’ wat ‘n skrikbewind hier voer.Ons het twee keuses: Kla en gaan ten gronde of doen iets, al is dit klein. Selfdoen is beter as niksdoen en kla. Ons groep is almal inwoners van die Vaaldriehoek. Almal werk en sweet saam en dra die kostes sover moontlik self, maar ons groep groei en dit help baie. Hoe meer mense betrokke raak, hoe beter en meer idees en planne sal daar wees. Ons kry meestal redelike samewerking van die polisie en stadsrade – hulle het ook maar hul eie unieke hindernisse.
Hou die plaaslike koerante en Facebook dop vir volgende aksies van AfriForum of die Kultuurnetwerk. Bring jou swartsakke en kom help. Dit is ongelooflik hoe die doeners wel kan saamstaan en saamwerk. Die sleutelbordkampioene en verdelers moet maar tuisbly en kla.

************************************************************
