Hartseer Feestyd nadat twee geliefdes in sewe maande sterf
Baie inwoners van Vanderbijlpark sal wyle mnr. Hendrik van der Merwe as 'n ywerige werknemer van die destydse Vanderbijlpark-stadsraad onthou.

VEREENIGING. – Vir baie inwoners van die Vaaldriehoek was die afgelope Kersfees en Nuwejaar ‘n besonder moeilike tyd nadat hulle in die voorafgaande jaar een of meer geliefdes aan die dood moes afstaan. Trienie van der Merwe van Drieriviere-aftreeoord is een so ‘n inwoner, wie se gesin in die bestek van sewe maande twee familielede moes groet.
Trienie se man, Hendrik, is op 4 Desember 2020 na ‘n massiewe beroerte in die Midvaalhospitaal oorlede. Sewe maande daarna, op 4 Julie 2021, het haar skoondogter, Elaine, aan Covid-19 gesterf.
Baie inwoners van Vanderbijlpark sal wyle mnr. Hendrik van der Merwe as ‘n ywerige werknemer van die destydse Vanderbijlpark-stadsraad onthou.
“Hendrik is op 1 September 1940 in Amersfoort gebore en het altyd gesê hy was so ‘n mooi baba dat sy geboortedag daarom ‘Lentedag’ genoem is,” sê Trienie.
Hy het in 1965, na sy studies in Pretoria, as jong ingenieur by die Vanderbijlpark-stadsraad aangesluit. Hy het in sy loopbaan van 40 jaar in al die afdelings gewerk, onder andere by Paaie en Stormwater, later was hy hoof van die Water- en Rioolafdeling asook van die Bouafdeling en werkswinkels. Hy was die laaste stadsingenieur van die ou bedeling en was voor sy aftrede in die nuwe bedeling bestuurder van die Ingenieursafdeling.
“Ons was lief vir reis en het deur die jare verskeie lande besoek en natuurlik ook deur Suid-Afrika getoer. Die Kruger-wildtuin was sy gunsteling, asook die Botswana-delta. Ons het vyftig jaar in Vanderbijlpark gewoon voordat ons na die Drieriviere-aftreeoord verhuis het,” sê Trienie.
Presies sewe maande na Hendrik se dood is die Van der Merwe-familie weer tot stilstand geruk toe Elaine, die vrou van Trienie se oudste seun, Nico, haar stryd teen Covid verloor het.
“Hulle het mekaar op Potch ontmoet en was 26 jaar getroud. Dit was vir ons ‘n hartseerjaar en ‘n moeilike Feestyd nadat ons binne sewe maande twee geliefdes moes afstaan,” sê Trienie.
Hoewel die hartseer nog na aan die oppervlak lê, hou jare se mooi herinneringe en haar liefde vir haar oorblywende familielede, seuns Nico en Wicus, skoondogter Ignatia en Trienie se vyf kleinkinders haar staande.



*****************************************************************************
