
Daar’s ‘n opwindende nuwe speelplek in Vanderbijlpark: Little Kingdom, wat op Saterdag, 8 Januarie, langs die ou Stokkiesdraaipad buite die dorp geopen het. En terwyl die fokus op die kleinspan val, is hier net soveel lekker dinge vir hul ouer boeties, sussies en ouers om te doen.
Dit is ‘n uitgestrekte perseel waar mens jou byna kan verbeel jy is op die plaas!
Die eienaar van Little Kingdom, Gert Janse van Rensburg, sê heelwat veranderinge is in die afgelope weke op die terrein aangebring om dit ‘n paradys vir die jongklomp te maak. Dit is op die perseel waar Mma Roos voorheen was. Daar is nou springmatte, ‘n ekstra off-road fietsbaan vir kleuter-skopfietsies sowel as groter fietse vir groter kinders. Daar is reeds ‘n reuse-sandput, en ‘n waterpark is ook in beplanning.
‘n Volledige restaurant verskaf die heerlikste kos vir oud en jonk, en daar is ‘n lekker boomryke kuierplek vir die ouers waar hulle iets kan eet of drink terwyl hulle die kleingoed dophou. Kinderrestaurante met klein tafeltjies en stoeltjies verseker dat kleuters gerieflik kan sit en soos jong koninklikes bedien kan word.
Danksy binnenshuise springmatte en klim-en-klouter apparaat kan die pret aanhou selfs wanneer dit reën.
Ma’s en hul dogters of vriendinne sal lekker bederf kan word in die skoonheidsarea waar ‘n nael- en masseerplek ingerig word. ‘Baby showers’ en kinderpartytjies word ook op die perseel aangebied. Daar is veilige, toegekampte parkering en goeie sekuriteit en ‘n karwas gaan mettertyd ook opgerig word.
Slegs kinders betaal toegang van R50 per kind (2 tot 18 jaar), maar ouers kom gratis. Little Kingdom is op Maandae en Dinsdae gesluit vir verdere ontwikkeling, maar is Woensdae tot Saterdae van 10:00 tot 17:00 oop, en Sondae van 10:00 tot 16:00. As jy raadop is oor hoe om die kleingoed besig te hou, gaan maak gerus ‘n draai!










********************************************************************************
