News

Baie vrae en hartseer na jong pa se dood

'Pappa bou vir ons 'n huisie in die Hemel,' sê kleuter na pa se dood

 

VANDERBIJLPARK. – “Ons het so baie vrae en wil net graag verstaan wat gebeur het maar ons kry nie antwoorde nie. Ons is met baie seer agtergelaat.”
So sê ‘n gebroke mev. Kyla Olivier oor die ongeluk op 18 Desember 2021 op die R57-roete, wat later die aand haar man André (28) se lewe geëis het. Die botsing het tussen Vanderbijlpark en Sasolburg naby die Ravelstraat-afrit plaasgevind.
Honderde Facebooklesers het boodskappe van bemoediging en gebede vir André gestuur nadat Vaalweekblad die oggend van 18 Desember op Facebook berig het dat hy kritiek in ‘n botsing tussen sy bakkie en ‘n sekuriteitsvoertuig beseer is. André het lewensondersteunende behandeling op die toneel ontvang voordat hy per noodhelikopter na die Unie-hospitaal in Alberton vervoer is. Sy twee kinders, Keandré (4) en Leanke (16 maande), sowel as twee insittendes van die sekuriteitsvoertuig is minder ernstig beseer en ook hospitaal toe geneem.
Teen omstreeks 21:00 die aand het André se pa, mnr. Andries Olivier, die hartverskeurende nuus op Vaalweekblad Facebook bekendgemaak dat sy seun gesterf het. Dit was nadat dokters ses ure lank om André se lewe geveg het.
Volgens Kyla het die ongeluk die oggend gebeur net ‘n rukkie nadat André haar by haar werk langs die R57 aan Vanderbijlpark se kant (die Golden Highway) afgelaai het. André, wat die afgelope sewe jaar by Bearing Man Group (BMG) in Vaalpark gewerk het, was amptelik met verlof en was met hul twee kinders op pad terug na hul huis in Sasolburg toe die botsing plaasgevind het. Keandré het verskeie kneuswonde aan sy gesiggie en nek opgedoen. ‘n Diep wond naby sy linkeroog moes onder narkose behandel word om skade aan sy oogsenuwee te voorkom. Leanke het ‘n snyplek aan haar agterkoppie opgedoen maar is later die dag uit Emfuleni Mediclinic ontslaan.
Volgens Kyla is die kinders besig om fisies te herstel, maar sy is bekommerd oor hul emosionele welstand omdat albei die ongeluk gesien gebeur het. Dit is duidelik dat veral Keandré sukkel om die gebeure en die dood van sy pa te verwerk.
“Hy herleef aanhoudend die ongeluk en hoe ons bakkie getol het, maar hy troos my elke dag met drukkies en sê ‘Mamma moenie huil nie. Pappa is by liewe Jesus, hy bou vir ons ‘n huisie daar’. André se hand en arm is in die ongeluk vergruis en Keandré het alles gesien. Hy wil heeltyd by my weet waar sy pa se hand en arms is. Die insittendes van die sekuriteitsvoertuig het na die botsing berading ontvang, maar ek is finansieel nie in ‘n posisie om dit vir my kinders te kan gee nie,” sê Kyla.
‘n Verdere hartseer vir die familie is dat hulle André se liggaam nie tydens die troosdiens op 30 Desember by die El Bet-El gemeente in Vanderbijlpark kon sien om finaal te groet nie.
“Weens al die vakansiedae in Desember het dit lank geneem voordat ons sy liggaam kon kry vir die begrafnisdiens. Daar was blykbaar nie genoeg yskaste in die staatslykshuis in Germiston nie. Weens die effek daarvan is ons aangeraai om nie na sy liggaam te kyk nie.”
André, wat op 11 Junie 1993 in die Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark gebore is, het aan HTS Carel de Wet skoolgegaan voordat hy die arbeidsmark betree het. “Hy was mal oor rekenaarspeletjies en om goedjies in en om die huis te herstel, maar ons sal hom veral onthou vir sy vriendelikheid en sy liefde vir sy familie. Hy was ‘n baie, baie goeie pa,” sê Kyla. André word buiten sy gesin ook oorleef deur sy ouers en drie susters.

André saam met sy twee kinders.
Wyle André Olivier
Die wrak van die Oliviers se bakkie na die botsing.
Wyle André Olivier saam met sy vrou Kyla en kinders, Keandré (4) en Leanke (16 maande).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button