Hoofsweep Rapport nommer 40 – Dit is hoekom ek Trots Midvaal is!
"Ek kyk na Midvaal en sien hoe hulle al hierdie aspekte hierdie afgelope paar maande hanteer het in die grootste geografiese munisipaliteit in Gauteng, met die kleinste begroting en die minste personeel en dink by myself, ek is TROTS MIDVAAL!"
Deur Raadsheer Phil C Pretorius – DA-Hoofsweep – Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Welkom in 2022. Na ‘n besige en rowwe 2021 sien ons uit na ‘n meer rustige jaar wat voorlê en wens al ons inwoners ‘n voorspoedige jaar toe.
Ons is die Oujaar uit met besonderse hoë reënval en in die Nuwejaar herinner die veelvuldige oop sluise van die Vaaldam ons dat die seën van die reëns steeds nie verby is nie. Ek sien die vloede in Beaufort Wes waar ons etlike jare gelede kanne water aangery het en riviere wat vir die eerste keer in jare weer begin loop het in die Kalahari. Ons is geseënd met die reëns en dit bring lewe en groei. Dit bring ook groei in grasvelde, bossies en slaggate in Midvaal. Verder veroorsaak dit verstoppings onder brûe en in stormwaterdreine asook klippe en sand op paaie. Grondpaaie word onbegaanbaar en gee “slip-and-slide” nuwe betekenis.
In tye soos dié word ‘n munisipaliteit se infrastruktuur en prosesse behoorlik getoets. Vir die munisipaliteite wat nie eers kan funksioneer in goeie weersomstandighede nie is dit olie op die vuur maar vir plaaslike regerings soos Midvaal wat relatief stabiel is bly dit steeds ‘n uitdaging. As die planete belyn met ‘n string publieke vakansiedae, ‘n pandemie se vierde golf, groeiseisoen en die goeie reëns, maak dit die lewe betreklik moeilik vir dienslewering.
Ek dink aan die bykomende uitdagings wat skielik aandag verg en wonder hoe die munisipale personeel dit alles bybring. Die munisipale swembad verlang meer chloor en suur, gras in parke en sypaadjies meer sny… maar nie in die reën, bossies meer gifdoder… maar nie in die reën, vullis steeds verwydering… selfs op vakansiedae en in die reën, elektrisiteit gaan meer af en dit veroorsaak ook meer riool opdamming, bome waai om, takke breek, daar is meer padongelukke en dus meer noodgevalle, meer leeglêers en piekniekgangers en inkopiedae met vuurwerke en klagtes en brande en diefstal en morsjorse en vol asblikke en siek mense by klinieke en so meer, en so meer. Intussen is dit die feesseisoen en almal verdien ‘n ruskansie. Essensiële dienste werk skofte maar dienslewering gaan nie met vakansie nie.
Ek kyk na Midvaal en sien hoe hulle al hierdie aspekte hierdie afgelope paar maande hanteer het in die grootste geografiese munisipaliteit in Gauteng met die kleinste begroting en die minste personeel en dink by myself, ek is TROTS MIDVAAL!
Groete. Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App
- Hierdie Hoofsweep Rapport het in Noord Ster van 11 Januarie 2022 verskyn.

*********************************************************************************
