Meer beveiliging en veranderinge kom na brand by poskantoor
Daar word beoog om die posbus-voorportaal en agter-area met ‘n sluitbare palissade-omheining toe te maak. Sleutels sal uitgereik word aan kliënte wat ‘n posbus in die voorportaal huur.
VEREENIGING. – ‘n Brand wat op 3 Januarie teenaan die hoofposkantoor op die hoek van Merrimanlaan en Lesliestraat uitgebreek het, is vermoedelik deur straatmense begin en was nie ‘n georkestreerde poging om dié geskiedkundige staatsgebou te vernietig nie.
Nadat Vaalweekblad die oggend foto’s op Facebook geplaas het, het talle bekommerde lesers bespiegel dat daar dalk landwye pogings gaan wees om staatsgeboue af te brand, veral nadat die Parlementsgebou in Kaapstad op 2 Januarie weens beweerde brandstigting beskadig is. In die Vereeniging-poskantoor se geval blyk dit dat ‘n matras en ander materiaal waarop straatmense snags by ‘n ou ingang van die gebou geslaap het, aan die brand geraak het. Dit is egter nog nie bekend of die brand per ongeluk uitgebreek het of met opset gestig is nie.
Die binnekant van die poskantoorgebou, met sy uitsonderlike Piquetteëls en hout- en marmerafwerking wat uit 1951 dateer, is glad nie beskadig nie en niemand is in die voorval beseer nie. Volgens amptelike inligting wat deur SA Poskantoor uitgereik is, is die brand vinnig geblus en het alle dienste sonder onderbreking voortgegaan. Die SA Polisiediens is versoek om die gebou met gereelde tussenposes te patrolleer om te verseker dat hawelose mense nie in die omgewing van die gebou slaap nie. Die SA Poskantoor onderneem voorts om ‘n permanente oplossing te vind om slegs toegang aan werknemers en kliënte te verleen.
Daar word beoog om die posbus-voorportaal en agter-area met ‘n sluitbare palissade-omheining toe te maak. Sleutels sal uitgereik word aan kliënte wat ‘n posbus in die voorportaal huur. Aangesien die Vereeniging-poskantoor ‘n belangrike hernuwingsfasiliteit vir motorvoertuiglisensies bied en ‘n besige uitbetalingspunt vir maatskaplike toelaes is, beoog die SA Poskantoor om al die nodige stappe te doen om te verseker dat normale dienste i die toekoms sonder onderbreking voortgaan.
Kyk na dié interessante video oor die Vereeniging Poskantoor wat deur ‘n Gerhard, ‘n vriend van Vaalweekblad, aangestuur is: https://www.youtube.com/watch?v=W21W_93r4_Y

Foto’s: Enrika Meyer

***************************************************************
