News

Vaaldriehoek-paartjie se ure van angs toe blouligbende toeslaan

Volgens nie-amptelike inligting van 'n betroubare bron is meer as 50 voertuie die afgelope jaar op soortgelyke manier op dié pad gekaap.

VEREENIGING. – “Na so ‘n kaping dink mens aanhoudend terug oor wat jy anders kon gedoen het, maar die kapers was soveel meer as ons, en boonop gewapen. Jy staan nie ‘n kans teen hulle nie. Ek dink wat ons gered het, is dat ons heeltyd stilgebly en gedoen het wat hulle sê.”

Só sê Pieter Lamont van Risiville, wat op 19 Desember saam met sy meisie, Naleen Lombard, en susterkind Zander (15) op die N3-roete deur ‘n blouligbende gekaap is.

Die paartjie vertel dat hulle die betrokke naweek saam met vriende ‘n ovaalbaanwedren in Richardsbaai bygewoon het en die aand in redelike druk verkeer op pad terug was na Vereeniging  toe ‘n voertuig tussen Warden en Grootvlei heeltyd baie na aan Pieter se wit Toyota Legend 50-dubbelkajuitbakkie gery het. ‘n Blou lig op die voertuig is uiteindelik aangeskakel. Vir Pieter, wat die pad gereeld ry, was dit nie ongewoon nie omdat daar gereeld padblokkades en polisie op die stuk pad is. Hy het stilgehou en twee “polisielede”, wat ligblou reflekteerbaadjies aangehad het, het weerskante van hul voertuig kom staan en  professioneel gegroet. Hulle het na die lisensieskyfie gekyk en gevra of daar enige alkohol of dwelmmiddels in die voertuig was, waarop die paartjie nee geantwoord het. Die volgende oomblik het die “polisielid” wat aan Pieter se kant gestaan het, sy arm deur die oop venster gedruk en die bakkie se deure gelyktydig met die sentrale sluitstelsel oopgemaak.

Binne sekondes was daar vier mans in die bakkie. Twee van die kapers het bo-op Naleen in die voorste passasiersitplek kom sit en Pieter is van agter af aan sy nek bo-oor die middelste paneel van die voertuig gepluk sodat sy bene na die voorkant toe gewys het. Hy het nog probeer om die noodligte aan te skakel maar kon nie daarin slaag nie. Nog twee mans het agter by Zander ingeklim.

Illustrasiefoto: So lyk Pieter se bakkie, wat steeds vermis word.

Die kapers, wat onder andere met ‘n 9mm-pistool gewapen was, het die paartjie en Zander se selfone afgevat en ook hul bankkaarte, pinkodes en geld geëis. Aldrie se polse is met kabelbinders vasgemaak en hulle is beveel om te “slaap”.

“Ek het besef ons moet kalm bly en net doen wat hulle sê,” sê Pieter.

Die paartjie se vriend,  Kobus (‘n skuilnaam), wat ‘n ent agter hulle met sy eie gesin in ‘n Ranger gery het, het gesien die bakkie het gaan stilstaan en het aanvanklik vermoed dat hulle ‘n papwiel gekry het. Die kaper wat agter die stuur ingeklim het, het teen ‘n hoë spoed in die verkeer in weggetrek en so roekeloos gery dat  Kobus besef het iets is verkeerd omdat dit glad nie Pieter se normale bestuurstyl was nie. Kobus kon Pieter se bakkie nog tot by ‘n brug sien, maar het hom uit die oog verloor toe die kapers op ‘n sypad afdraai.

Kobus het dadelik Pieter se selfoon begin bel, maar die kapers het dit keer-op-keer doodgedruk. Volgens Pieter en Naleen was die kapers baie angstig en het heeltyd hard met mekaar gepraat en skynbaar rusie gemaak. Een van die kapers het Naleen se oë met sy hand toegedruk en Pieter, wat steeds halflyf tussen die voorste sitplekke gelê het, se hemp is oor sy kop getrek sodat hy nie kon sien waarheen hulle ry nie.

“Hoewel ek Pieter nie kon sien nie, het ek sy been heeltyd teen my gevoel en geweet hy is daar,” sê Naleen.

Na sowat 30 minute het die kapers in ‘n donker gebied stilgehou. Hulle wou aanhoudend weet by wie hulle verseker is en waar die opsporingstelsel geïnstalleer was. Naleen, Pieter en Zander is beveel om uit te klim en op die grond te “slaap” terwyl die kapers onder die enjinkap gevroetel het.

“Pieter het bo-op my en Zander kom lê. Ek weet Pieter kan hul taal verstaan en ek het hom saggies gevra of hulle ons nou gaan skiet. Hy het net gesê ons moet ons koppe afhou en doen wat hulle sê. My grootste vrees was dat hulle ons daar gaan doodmaak en so gaan los,” sê Naleen.

Terwyl hulle daar lê, het Pieter se foon steeds aanhou lui en die kapers het hom beveel om Kobus se oproep te beantwoord en te sê alles is reg. Omdat Kobus vermoed het dat Pieter-hulle gekaap is, het hy ‘n vraag gevra waarvan albei die antwoord geweet het, maar wat Pieter opsetlik verkeerd beantwoord het. Kobus het besef daar is groot fout en het gesê Pieter moenie bekommer nie, hy verstaan wat aan die gang is.

Pieter, Naleen en Zander is weer agterin die bakkie ingedwing. “Ek kon sien ons ry terug na Villiers op die R54. Die kapers ry toe met ons tot by die Vaaldamkruising naby die damwal en draai regs na Heidelberg toe. Soos wat ons ry het hulle heeltyd die pinkodes van ons bankkaarte gevra, en hoeveel geld in die rekenings is. Hulle het omtrent 30 keer gesê hulle sal ons nie doodmaak nie en sou ons los nadat hulle geld by ‘n ATM kon trek,” sê Pieter.

Na ‘n paar kilometer het die kapers hulle met net die klere aan hul lywe in ‘n pikdonker gebied langs mielielande afgelaai en gery. Pieter, Naleen en Zander het dadelik in die lande ingehardloop. Hulle het ‘n paar keer voertuigligte gesien maar in die modderige lande voortgeploeter uit vrees dat die kapers sou terugkom. Pieter kon daarin slaag om die kabelbinders om hul polse af te byt en hulle het in die rigting van ‘n dowwe liggie begin drafstap. Na wat soos ure gevoel het, het hulle by ‘n plaashuis sowat 7 km verder, aangekom en met hul hande omhoog om hulp begin roep. Die honde het begin blaf en ‘n venster het oopgegaan. Hulle het aan die boer verduidelik wat gebeur het, waarna die plaasgesin vir hulle koffie gegee en gehelp het om hul familie en Kobus te kontak. Kobus was in daardie stadium so 20 minute se ry van daar af en het hulle kom oplaai. Teen 01:00 die nag was hulle uiteindelik by hul huis in Risiville.

Die kapers het agterna R2 000 uit Pieter se rekening onttrek. Ondanks die hoëgehalte voertuigopsporingstelsel kon die bakkie tot dusver nie gevind word nie. Pieter se selfoonsein is die laaste keer in die omgewing van Lenasia nagespeur maar die kapers is steeds op vrye voet.

“Ons ontvang berading en is nog baie angstig, selfs as ons net winkel toe ry,” së Naleen. “Maar ons sal survive,” voeg Pieter by.

* Volgens nie-amptelike inligting van ‘n betroubare bron is meer as 50 voertuie die afgelope jaar op ‘n soortgelyke manier op die N3 tussen Warden en Grootvlei gekaap. Die Sasolburg-polisie het onlangs ‘n waarskuwing uitgereik dat ‘n soortgelyke blouligbende ook die afgelope maande op die R59-roete in die Vaaldriehoek bedrywig is.

 

Pieter Lamont en Naleen Lombard, wat deur ‘n blouligbende op die N3 gekaap is. By hulle is hul honde Luna en Titan.

 

********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button