Ek sê maar net
Ja, dis nou 'n ding. Nugter mense wat slingerspore moet ry en groot gate waar daar eens teerpaaie was.
Dis die jaar 2022. Vir iemand wat in die era van Star Trek met Kaptein Kirk en Mr. Spock grootgeword het, opgevolg deur Buck Rogers met sy Tweedy, is 2022 teleurstellend.
Hier sit ons met geen oulike Tweedy robotte wat agter ons aanloop en sê: “Beedy, beedy, beedy oh-oh” nie.
Om die waarheid te sê, my Ouma Bessie sou gesê het: “Julle boer agteruit.”
Maak nie saak in watter straat mens ry nie, êrens gaan jy soos ‘n dronk mens moet slinger in ‘n poging om die slaggate mis te ry.
By die verkeersligte is dit nog erger. Party wys net rooi en ander net groen, en dan is daar die wat alkant ligte geblaas het.
Praat liewer nie van die bedelaars in die middel van die pad nie.
Ek is nie ‘n hardvogtige mens nie, maar so in die middel van die pad stanery neffens slaggate is mos vir moeilikheid soek.
Stry nou maar oor omstandighede en wie weet wat soos jul wil, ek het al met my eie ore gehoor hoe van daardie beroepsbedelaars kos en werk summier van die hand wys.
Dit betaal blykbaar om in die middel van die pad te staan, en dis belastingvry. Dis wat ek hoor.
Kyk, vir ‘n belastingbetaler soos ek wat hard werk vir my geld, kan dit my sommer vies maak as ander mense daarmee wegkom om nie te betaal nie. Ek sê maar net.
Allegeval, ek hoor daar is verskeie organisasies en mense wat inspring en onder meer slaggate probeer regmaak, en gras sny. Is goed.
Net jammer almal wil nou nie met mekaar saamwerk nie. Ai, hoekom onse mense ook altyd moet dwarstrek, afstig en oor berge trek in plaas van saamstaan, weet ek ook nie.
Julle jonges van vandag sal dit nie glo nie, maar in die dae wat ons nog Haas Das se Nuuskas op die televisie gekyk het, was daar ‘n plek met die eienaardige naam van munisipaliteit.
Daar het baie streng ooms en tannies gewerk. Elke liewe week het daar ‘n trok verbygekom en dan is vullissakke opgelaai.
Op ander dae het ‘n ander trok verbygekom en dan is die bome op die sypaadjies gesnoei en daar is gespuit sodat die gras en bossies nie alles oorneem nie.
Straatligte het gewerk. Daar was selfs ooms in uniforms wat die verkeer gereguleer het as ‘n verkeerslig dit per ongeluk gewaag het om nie te werk nie. Regtig!
As dit gereën het, het die water sommer so weggeraak in die goed met die naam van stormwaterslote. Ek lieg nie. Dis die reine waarheid.
Van gate in die pad was daar nie sprake nie. Daar was ooms met yslike masjiene en hulle het paaie gebou om te hou. Is!
My oupa was een van hulle, so ek sal weet.
En as julle my nou nie wil glo nie, gaan vra hom, hy is begraaf daar in Brakpan se grafnis plaas, nou al van 1969 af.
Gepraat van die plek met die grafstene wat in rye langs mekaar staan.
Almal onder 50 sal sekerlik dink ek skiet nie net spek nie, ek gooi julle met ‘n hele vark, maar ek onthou die dae wat begraafplase stil, netjiese en rustige plekke was.
Kompleet met regte en plastiese blomme op die grafte en die grafstene het geblink.
Dis nie nou meer so nie. Hartseer nè? Maar dalk as ons almal nou begin saamstaan. Ek sê maar net.
