News

Futuristiese sonkragmotors se lang reis skop in Sasolburg af

Die 2026 Sasol Solar-uitdaging se deelnemende voertuie sal op Woensdag, 9 September, in die Boiketlong-saal, Sasolburg, op uitstalling wees tussen 09:00 tot 15:00.

Oor net ‘n paar weke gaan ‘n vloot futuristiese motors ‘n reis van meer as 2 500 km oor Suid-Afrika aanpak en nie een van hulle sal ‘n enkele druppel brandstof gebruik nie.

Die 2026 Sasol Solar-uitdaging vind van 10 tot 17 September plaas en skop amptelik op 10 September om 09:00 in Sasolburg af.

Hoewel dit na ‘n wedren klink, gaan dit nie oor wie eerste oor die eindstryp jaag nie, maar eerder oor wie ‘n sonkragmotor dag na dag suksesvol oor die kilometers kan neem.

Die fokus is nie net op die indrukwekkende afstand wat afgelê word nie, maar ook op wie agter die stuur sit en meer nog, wie die motors gebou het.

Plaaslike spanne van Suid-Afrikaanse universiteite en onafhanklike vernuwers sal die uitdaging aanpak, tesame met ‘n verskeidenheid internasionale deelnemers.

Futuristiese voertuite soos die een wat aan die 2024 Sasol Solar-uitdaging deelgeneem het, durf binnekort die lang pad aan.

Omdat elke voertuig van die grond af ontwerp en gebou moet word deur die span wat dit bestuur, is geen twee motors dieselfde nie en kan toeskouers uitsien na unieke ontwerpe.

Die spanne sal daagliks sowat 250 tot 300 km moet aflê. Dit is ‘n groot beproewing vir voertuie wat uitsluitlik op sonenergie staatmaak, veral wanneer die weer nie saamspeel nie.

Wolke, winde en hitte eis noukeurige berekeninge, wat spanne sal dwing om blitsvinnige besluite oor spoed, energieverbruik en roetestrategie te neem net om die dag se eindbestemming te haal.

Inspirasie vir die jeug

“Die Sasol Solar Challenge stal nie net ingenieurstalent uit nie; dit streef daarna om dit verder te laat groei.

“Saam met die hoofgebeurtenis is daar ook ‘n Skoleprogram – ‘n inisiatief wat ontwerp is om bewustheid, opgewondenheid en geleenthede in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) vir leerders te prikkel,” verduidelik Bruce Crossey.

“Wanneer die sonkragmotors die aangewese kontrolepunte langs die roete bereik, bied die Skoleprogram praktiese ervaring.

“Leerders roteer deur verskeie stasies wat oor sonkragtegnologie, e-mobiliteit en robotika handel, waar hulle met regte gereedskapstel-toerusting ‘n eerstehandse voorsmaak van STEM in aksie kry.”

Vorige uitdagings

In 2024 het die program meer as 5 000 leerders bereik terwyl die geleentheid deur dorpe regoor die land gereis het.

Vir baie van hierdie leerders, veral in landelike gebiede, was dit ‘n rare en waardevolle geleentheid om prakties met wetenskap en ingenieurswese kennis te maak.

Beginpunt

Vanjaar se uitdaging skop op 8 September af met die Hot Laps by Red Star Raceway, waar die motors hul finale tegniese kontroles ondergaan voor hulle die lang pad aandurf.

Die amptelike reis deur die land strek van 10 tot 17 September.

Die uitdaging kom op 17 September in Franschhoek tot ‘n einde, gevolg deur ‘n openbare voertuiguitstalling op die 18de.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button