Legendariese sakeman Pelham Bothma sterf na kort siekbed
Pelham was ‘n seun van so 11 jaar oud toe hy in 1952 saam met sy ouers in die Vaaldriehoek aangekom het. Sy pa, Stefanus Bothma, was die derde werknemer wat destyds deur Sasol aangestel is.

SASOLBURG. – Een van die dorp se eerste inwoners, mnr. Pelham Bothma, wat later jare bekendheid verwerf het as lid van die hoogs suksesvolle Bothma-sakeryk, het verlede Saterdagaand na ‘n kort siekbed beswyk – slegs drie dae voor sy 81ste verjaardag.
Volgens sy jonger broer, Tertius, het Pelham sleg seergekry toe hy sy toon ‘n tyd gelede gestamp het. Gangreen het ingetree en die toon is drie weke terug geamputeer. Twee weke later het die gangreen so versprei dat sy been onder die knie afgesit moes word. Die toestand het verder deur sy liggaam gewoed en hy is uiteindelik op lewensondersteunende masjiene geplaas. Teen Saterdagaand, 22 Januarie, het hy sy stryd in Cormed-Hospitaal verloor.
Hoewel dit die afsluiting van ‘n kleurryke lewe was, sal sy familie, vriende en die sakegemeenskap dié sagmoedige man met die groot hart nie maklik vergeet nie. Hy was bekend vir sy oop hand vir minderbevoorregtes en het graag uitstappies en bederfgeleenthede vir bejaardes in ouetehuise en kinders in weeshuise befonds.
Pelham was ‘n seun van so 11 jaar oud toe hy in 1952 saam met sy ouers in die Vaaldriehoek aangekom het. Sy pa, Stefanus Bothma, was die derde werknemer wat destyds deur Sasol aangestel is. As “meester-sinker” was dit Stefanus se taak om Sasol se Sigma-myn in Sasolburg te begin.
Die Bothma-gesin het met ‘n taxi vanaf Witbank tot by die Vaalrivier by Vanderbijlpark gekom, van waar hulle met die destydse pont na die Vrystaatkant geneem is. Die gesin het toe eers verneem dat hier nog geen blyplek vir hulle was nie!
Hulle het aan die Vrystaatkant kennis gemaak met mnr. Lewies Claassen, ‘n jarelange boer van die omgewing, en op sy plaas tuisgegaan totdat hulle uiteindelik kon intrek in die derde huis wat Sasol in die woongebied wat nou as Zamdela bekendstaan, voltooi het.
Stefanus het mettertyd ‘n behoefte aan ‘n behoorlike transport-onderneming raakgesien en omstreeks 1958 sy eerste trok, ‘n 6-meter “tippertjie”, gekoop, en later nóg een. Dit was die begin van S. Bothma en Seuns Transport, wat in 1966 geregistreer is en gegroei het tot een van die grootste ondernemings van sy soort in die land. Bothma en Seuns het in ‘n stadium 500 trokke en 2 500 personeellede in diens gehad en al Sasol se transportkontrakte hanteer. Die onderneming het onder andere hoogs gespesialiseerde werk begin doen, soos om kunsmis en plofstof te vervoer.
Pelham het as jong man sy vakleerlingskap as passer en draaier by Sasol voltooi voordat hy by sy pa se onderneming aangesluit het. Pa Stefanus is in die vroeë 1970’s oorlede, waarna die vier Bothma-broers, Pelham, Tertius, Dirk en Louis, die onderneming verder geneem het. Dirk en Louis is ongelukkig albei op ‘n jong ouderdom oorlede. Pelham het later ander sakebelange ontwikkel en Tertius is vandag die enigste Bothma-broer wat die onderneming voortsit.
Hoewel Pelham steeds langs die Vaalrivier by Wonderfontein gewoon het, het hy groot genot uit sy boerdery in die Heilbron-distrik geput en steeds elke dag ingegaan kantoor toe.
“Hy was ‘n ou met ‘n sagte hart. Hy het met niemand moeilikheid gesoek nie. Hy was ‘n goeie, ordentlike mens wat graag lekker kos gemaak het en daarvan gehou het om mense te onthaal,” sê Tertius.
Pelham word oorleef deur sy vrou, Ivy, ‘n nooi Pretorius wat ook in die Sasolburg-omgewing grootgeword het, en hul twee seuns en ‘n dogter, skoonkinders en kleinkinders. Die begrafnisreëlings was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie bekend nie.


***************************************************************************
