Groot brand in Naledi: Eienaar van onderneming vertel wat gebeur het
“Die finansiële skade aan die stoorgebou is relatief groot maar dit is materiële goed; ons is net dankbaar dat daar nie méér ernstige beserings was nie,” sê McLeod.
SASOLBURG. – Buiten een personeellid wat brandwonde aan sy hand opgedoen het, is niemand anders in verlede Vrydag se brand by ICS Hydrocarbons in Marsstraat, Naledi, beseer nie.
Volgens mnr. Arno McLeod, direkteur en eienaar van die onderneming in die Naledi Nywerheidspark, het die chemiese brand omstreeks 09:30 Vrydagoggend (21 Janunarie) ontstaan in ‘n stoor waar vlambare vloeistowwe bewaar is. Die brand is vermoedelik deur statiese elektrisiteit veroorsaak.
“Ons plaaslike brandbestrydingspan het binne ‘n minuut begin om die brand te blus, maar dit het gou te groot geword. Branddienste van Metsimaholo, Sasol, Natref en ‘n onafhanklike branddiens van Johannesburg het toe meegehelp om die vlamme binne sowat twee ure te blus,” sê McLeod.
Die donker rookwolk wat oor die nywerheidspark gehang het, kon die oggend kilometers ver gesien word.
Hoewel die stoor verwoes is, gaan die onderneming se werksaamhede normaalweg voort. Slegs ‘n klein deel van die sakebedrywighede is deur die brand geaffekteer.
“Die finansiële skade aan die stoorgebou is relatief groot maar dit is materiële goed; ons is net dankbaar dat daar nie méér ernstige beserings was nie,” sê McLeod.
ICS Hydrocarbons lewer hoofsaaklik produkte aan kliënte in die houtbedryf.

Foto: Deonette Nienaber





************************************************************************************************
