
VANDERBIJLPARK. – “Dit was die lang wag werd!” Só sê Vernon Muso, Vaaldriehoekse sanger en gewilde celebrity nadat hy verlede maand uiteindelik ‘n ring aan sy geliefde Elzaan van Zyl se vinger kon steek.
Die paartjie het in 2016 begin uitgaan en het die afgelope vyf jaar reeds ‘n paar keer trouplanne gemaak, maar dit is keer-op-keer deur onvoorsiene gebeure in die wiele gery. Dié keer was daar egter geen stop nie en op 4 Desember kon hulle trou aan mekaar beloof by ‘n intieme geleentheid in Rustenburg, wat deur ‘n paar familielede, ‘n klompie vriende, sy orkeslede en radiopersoonlikhede bygewoon is.
“Hoewel dit van die vorige dag af in Rustenburg gereën het en ons troudag letterlik sopnat was, het niks anders vir my saak gemaak as my pragtige bruid nie,” sê Vernon.
Ondanks die knop in sy keel het Vernon verbete probeer om tydens die seremonie vir Elzaan te sing. “Ek dink nie ek het al óóit so sleg op ‘n verhoog geklink nie,” sê hy laggend.
“Ons sien uit na die toekoms saam en woon en werk steeds in Vanderbijlpark.
“Ek beplan ‘n hele paar community upliftment programme vir 2022, en sal nader aan die tyd meer daaroor uitlaat. Ek glo dat daar ‘n sosiale verantwoordelikheid op elk van ons kunstenaars rus om die gemeenskappe waarin ons leef, soveel as moontlik te probeer bystaan.
“Ons moet fokus op ‘wat maak ons eenders’ pleks van ‘wat maak ons verskillend’. Só ‘n mindset gaan mure begin afbreek en beter verhoudinge teweegbring,” sê hy.
Vernon is ‘n Kapenaar van geboorte en het in 2012 na Vanderbijlpark verhuis. Sy liefde vir musiek en optrede kom al ‘n ver pad.
“Ek het op 12-jarige ouderdom begin kitaarspeel en sing. Solank as wat ek kan onthou, is ek lief vir musiek en speel ook klavier.
“My musiekfondasie lê stewig in die Jazz, RnB en Soul-genres, maar nadat ek Lance James in 2012 ontmoet het, het die Country-gogga my behoorlik gebyt,” sê Vernon.
Hy is sedertdien met verskeie gesogte nasionale Country-musiektoekennings vereer en het met sy optredes in die Vaaldriehoek en die res van die land reeds diep in sy aanhangers se harte ingekruip.
Vernon het onlangs met Musicland in Vanderbijlpark hande gevat en hulle bied nou kitaar-, baskitaar-, klavier- en klawerbordlesse daar aan.
“So, aan al my geliefde Valies, kom loer in en sê hallo by Musicland!” Skakel gerus (016) 931 2246 om meer oor die lesse uit te vind.


*********************************************************************************************
