LifestyleNews

Bijlers verdwyn toe ‘Superman’ uit Vereeniging opdaag om te help

"Ek wil mense net laat weet dat jou woord jou eer moet wees en dat hulle minder moet kla oor alles. 'n Mens moet maar self inspring om sulke plekke veilig en netjies te kry."

  VANDERBIJLPARK. – “Julle Vanderbijlparkers moet ophou kla oor jul dorp wat in ‘n slegte toestand is en jul luiheid los en self begin skoonmaak. Julle is geen voorbeeld vir jul kinders nie.” Só sê mnr. Heinrich Ernst, ‘n inwoner van Vereeniging, wat op inwoners van Vanderbijlpark se hulpkreet gereageer het en verlede Saterdag na Vanderbijlpark gekom het om die veldjie langs Curie-boulevard skoon te maak, net om te vind dat hulle die enigstes was om te kom werk. Inwoners van die omgewing het onlangs in Ster en op Facebook kommer uitgespreek oor die oorgroeide veld naby Laerskool Totius en gesê dit is onveilig vir kinders en ma’s wat daarlangs moet deurstap skool toe. Buiten vir die lang gras het die veldjie die afgelope tyd ‘n onwettige stortingsplek vir huishoudelike rommel geword en inwoners het gekla dat dit ‘n teelplek vir rotte en skuilplek vir misdadigers is. Nadat Heinrich van die probleem kennis geneem het, het hy aangebied om verlede Saterdag te kom help opruim. Hy het inwoners van die gebied uitgedaag om ook te kom werk. Daar was verskeie beloftes en een dankbare Facebook-leser het Heinrich selfs ‘n gewaardeerde “Superman” genoem. Heinrich en twee van sy kollegas, John Macana en Thabo Ndlosi, het toe die oggend al die pad van Vereeniging af met sy grassnyer, boskapper en kragopwekker opgedaag, net om teleurgesteld te besef dat niemand van die inwoners gaan opdaag nie. “Ons kon ongelukkig nie die hele veld sny en skoonmaak nie, maar het die voetpaadjie wyer gemaak en die hoë takke afgekap sodat mens die kinders van albei kante af kan sien loop,” sê Heinrich. “Ek het dit nie gedoen vir fame en fortune nie. Ek wil mense net laat weet dat jou woord jou eer moet wees en dat hulle minder moet kla oor alles. ‘n Mens moet maar self inspring om sulke plekke veilig en netjies te kry.” JOHANN VILJOEN VAN AFRIFORUM VANDERBIJLPARK LEWER KOMMENTAAR:

Een van AfriForum se waardes is:
Selfbestuur: Die verantwoordelikheid vir my, my gesin, my gemeenskap en AfriForum se toekoms kan nie op ander mense afgeskuif word nie. Daarom neem ons self verantwoordelikheid vir die toekoms.
Die artikel is ongelukkig die realiteit van hoe mense nie wil help nie maar altyd kritiek wil lewer en dan as daar gevra word vir hulp, dan is niemand bereid om te help nie. Dit is jammer dat dit altyd dieselfde mense is waarop gereken kan word. Waar is die res?
Ons kan lankal nie meer die verskoning van, “Ek betaal my belasting”, gebruik nie. Dit is tyd om op te staan en betrokke te raak en self te doen.
 
 
 
 
So het die toegegroeide veldjie en voetpad gelyk het
Heinrich Ernst en sy 2 kollegas besig om die gras te sny en die area op te ruim.
Die voetpaadjie waarlangs skoolkinders daagliks moet loop, is wyer gemaak en hoë plantegroei is ter wille van hul veiligheid korter gesny.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button