News

Hoe weet jy watter nuus om te glo? Raadsheer Phil Pretorius gee raad

Hoofsweep 42: Hier is raad oor hoe jy jou pad deur ‘n magdom vals nuus kan baan

Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Ons leef in ‘n era waar kommunikasie ons sintuie so oorgeneem het dat ons nie kan byhou met die informasieoorlading wat ons op ‘n daaglikse grondslag ervaar nie. ‘n Mens voel kompleet soos ‘n kind in Stilbaai se roomyswinkel wat op en af voor die roomysbakke trippel en nie kan besluit watter drie van die 33 geure jy wil probeer nie.

Sodra jy ‘n rowwe idee gevorm het, spring hulle “suiker” of “gewone” roomyshorinkie op jou en kompliseer dit dan nog verder met tientalle opsies van neute, hundreds & thousands-sprinkels, M&M’s, sjokolade- en karameldip. Die een oom is so oorweldig dat hy grootoog uitloop en buite gaan rook om te kalmeer. Die tannie lag histeries terwyl sy iets van alles neem en die karameldip langs haar ken afloop en op die grond drup.

Facebook (fb), Instagram, Twitter, WhatsApp (PM, groepe, broadcasts) of Telegram, TikTok, YouTube, Pinterest, Teams, Zoom, Playstore, iStore, Netflix, Showmax. DStv, 94.7, Jakaranda, OFM, 90.6, 702, RSG, CNN, FOX, BBC, eNCA, Google, Yahoo, Rapport, Vaalweekblad, Beeld, Ster…

Jou inligtingsbronne is legio. Hoe kies jy waarna jy luister, wat jy lees en wat jy glo? Wat is fout met daardie sin? Wel jy moet nou skielik besluit watter nuus jy kan glo!

Dit was altyd die joernalis en die redakteur se werk om te besluit of inligting feitelik is en dit na deeglike ondersoek objektief weer te gee. Ons verstaan dat staatsmedia sal propagandeer en dat konglomerate soos Fox News hulle eienaars se ideologie sal aanhang. Die maagpyne en krampe kom in wanneer dit blatante misinformasie versprei in die wete dat dit as feite verteer sal word. Die verband is dus voor die hand liggend tussen meer media en meer fopnuus. Hierdie fopnuus (fake news) is egter nie nuut nie, maar net skielik meer opvallend.

Daniel den Hollander, ‘n kliniese sielkundige, identifiseer vier kwaliteite waaraan fopnuus herken kan word, naamlik:

  1. Is die storie sensasioneel?
  2. Skep dit wantroue in die betrokke outoriteit?
  3. Teer dit op die vooroordele en partydighede van die gehoor.
  4. Stel ons bekend aan gehore wat dieselfde glo en dink as dit wat verkondig word. (Wat is waarheid? KYKnet)

Hierdie vier vereistes saam maak dit dan teelgrond vir ‘n vals gerug en die daaropvolgende samesweringsteorieë.

Nuus vra meer vrae waarop feitelike antwoorde verkry word, terwyl fopnuus meer opinies lewer.

Kurt Danziger in sy Confessions of a marginal psychologist, beweer dat die regverdiging in plaas van ontdekking van inligting die aanduiding is van ‘n pseudo-wetenskaplike (fopjoernalis) (https://www.kurtdanziger.com/autobiogms).

En nou die uiteinde van hierdie preek? Moenie alles glo wat jy hoor, lees of sien nie. Betwyfel, vra vrae, ondersoek, evalueer en besluit dan self. So, waarvoor wag jy? Gaan Google die skakel hierbo en vind uit wie was Kurt.

Groete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

*************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button