Hart eis gewilde inwoner van Sasolburg
Marius het verlede Donderdag, 27 Januarie, onverwags by sy huis gesterf.
SASOLBURG. – ‘n Hartaanval het vermoedelik verlede week die lewe van mnr. Marius Bierman (51), ‘n bekende en geliefde inwoner van die dorp, geëis.
Marius, of Bieries soos sy vriende hom geken het, was in sy matriekjaar in die 1980s onderhoofseun van HTS Sasolburg. Hy het destyds ook vir die skool se eerstespan rugby gespeel. Sy liefde vir dié sport was een van sy groot passies en hy was tot aan die einde van sy lewe ‘n getroue Spanners-ondersteuner.
Marius het verlede Donderdag, 27 Januarie, onverwags by sy huis gesterf. Hoewel die oorsaak van sy dood teen Vaalweekblad se saktyd nog nie amptelik bekend was nie, vermoed sy gesinslede dat hy ‘n hartaanval gehad het.
Marius is in Heilbron gebore maar het die grootste deel van sy lewe in Sasolburg gewoon en gewerk. Na voltooiing van sy skoolloopbaan het hy sy Nasionale Diploma in Meganiese Ingenieurswese aan die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) verwerf. Hy het by Telkom begin werk en mettertyd in verkoeling gespesialiseer en sy rooiseëlkwalifikasie op dié gebied verwerf. Hy het sedertdien by verskeie maatskappye in sy spesialisveld gewerk en was veral bekend as lugversorgingstegnikus en algemene bestuurder by DB Watercare.
Volgens sy dogter, Mariné, was hy ‘n sterk maar sagmoedige man. “Hy het altyd geglimlag, selfs al het hy ‘n slegte dag gehad. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Om saam met hom na Sasolburg se sakesentrum te gaan, was altyd ‘n mission. Omdat hy so bekend en geliefd was, wou baie mense altyd eers groet en gesels. Hy was ‘n wonderlike pa, seun, oom, man en vriend,” sê sy.
“Hy het daarvan gehou om saam met sy vriende en familie te kuier. Hy was baie lief vir die see en om op die Suidkus se strande te stap. Sy kinders was sy lewe,” sê Mariné.
Een van sy geliefkoosde tydverdrywe was om aan motors te werk, net soos sy pa voor hom. Sy pa was die ewe bekende Tienie Bierman, wat jare lank by Dutton Motors in die dorp gewerk het.
Marius word buiten Mariné ook oorleef deur sy seun Sean Bierman, wat saam met hom gewerk het, sy eks, mev. Corné Bierman met wie hy nog ‘n goeie vriendskap gehad het, sy ma Joey en broer Anton. Hy het ook ‘n suster, Almarie Gouws, gehad, wat ‘n paar maande voor hom oorlede is. Marius was tot met sy dood steeds baie geheg aan sy suster se twee dogters, skoonseun en twee kleinseuns.
* Sy begrafnisreëlings was teen Vaalweekblad se saktyd nog nie gefinaliseer nie.

