OPDATERING: Teen laat vanaand het lesers al R4000 vir Keagan se operasie geskenk. ‘n Vanderbijlparkse prokureur het omstreeks 22H00 vanaand laat weet dat hy die uitstaande bedrag van R35 000 wil betaal, en hy het intussen reeds die oordrag gedoen. As alles volgens plan verloop, sal Keagan dus Maandag sy operasie kan kry! (Die weldoener is mnr. Charl Kruger van die prokureursfirma Kruger & Kruger Attorneys).
MEYERTON. – ‘n Seuntjie van 16 maande, Keagan Havenga, moet teen Maandag, 14 Februarie, ‘n dringende operasie kry om die ringvinger aan sy linkerhandjie te amputeer. Dit moet gedoen word omdat daar nie voldoende bloedvloei na die vingertjie was nie en dit swart geword het.
Keagan se ma, Megan, sê hy is op 10 Oktober 2020 in Vereeniging gebore: ‘n Perfekte babatjie, behalwe dat die middel- en ringvingers van sy regter- sowel as sy linkerhandjie aan mekaar vasgegroei was. Nadat sy ouers genoeg geld bymekaar gemaak het, is ‘n operasie op 17 Januarie vanjaar in die Wilgers-Hospitaal in Pretoria uitgevoer om die vingers van mekaar te skei.
Keagan se vingers aan sy regterhandjie het na die operasie mooi herstel, maar die linkerhandjie s’n wou nie genees nie omdat daar nie genoeg bloedvloei na sy ringvinger was nie. Die vingertjie is nou pikswart en Keagan moet teen Maandag ‘n dringende opvolgoperasie ondergaan om dit af te sit.
Keagan se ouers het nie ‘n mediese fonds nie maar kon tot dusver vir sy private behandeling betaal met hul eie geld en danksy skenkings van goedhartige mense en sakeondernemings in die gemeenskap, soos die Gas Monkey Boksburg Foundation. Hulle gaan dit egter nie regkry om teen Maandag R39 000 vir die operasie te kan neersit nie. Megan sê dit is duidelik dat haar seuntjie baie pyn het en hulle hoop en bid dat genoeg geld ingesamel sal kan word sodat die operasie kan plaasvind.
Enigiemand wat Keagan en sy ouers wil help om sy handjie so goed as moontlik te red, kan ‘n inbetaling maak aan: M Maritz, Capitec Bank, Spaarrekening: 154 547 6851. (Verwysing ‘Keagan’ en jou van). Baie dankie by voorbaat aan almal wat bereid is om by te dra. Indien genoeg geld teen Sondag ingesamel is en die operasie kan voortgaan, sal Vaalweekblad Maandagaand terugvoer gee oor hoe dit afgeloop het.
OPDATERING – SOOS BO GENOEM, HET VAALWEEKBLAD-LESERS INTUSSEN GENOEG GELD GESKENK DAT KEAGAN SE OPERASIE MAANDAG KAN VOORTGAAN. KEAGAN SE VERHEUGDE OUERS Sê “GROOT DANKIE EN OPREGTE WAARDERING VIR ALMAL SE OMGEE”.




