News

Egpaar in huis oorval deur ‘voornemende huiskopers’

Die Vanderbijlparkse polisie doen 'n beroep op inwoners wie se huise in die mark is, om op hul hoede te wees vir dié soort modus operandi, wat ook al voorheen kop uitgesteek het.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Egpaar van SE2 is verlede Donderdag onverwags deur aanvallers, wat hulle as voornemende huiskopers voorgedoen het, oorval, vasgebind en beroof. Verskeie artikels en ‘n vuurwapen is deur die rowers gebuit.

Sersant Gertrude Makhale van die Polisie se kommunikasieafdeling het bevestig dat ‘n klag van huisroof ondersoek word.

Die egpaar, wie se huis in die mark is, is verlede Dinsdag deur mense besoek wat na die huis wou kyk met die oog daarop om dit te koop. Die “voornemende kopers” het gesê hulle wou graag die volgende dag terugkom om weer te kyk. Omstreeks 17:00 die volgende dag het die tuinier die egpaar laat weet dat die “kopers” by die hek is en die eienaar het die besoekers in hul wit Ford Eco Sport ingelaat.

‘n Vrou het uitgeklim en by die deur gevra of haar man ook kon inkom. Die egpaar het gesê dit is reg, waarna ‘n man ingekom het, vinnig gevolg deur nog ‘n vrou en drie mans. Die huiseienaar, wat ‘n vuurwapen by hom gehad het, is dadelik oorweldig en sy wapen is afgeneem terwyl die rowers hul eie wapen op hom gerig het. Hy het hom teëgesit en is met ‘n vuurwapen teen die regteroog geslaan. Die egpaar is daarna na die gesinskamer geneem, waar hul hande en voete vasgebind is.

Die rowers het die huis omgekeer op soek na waardevolle artikels en kon ook daarin slaag om die kluis oop te maak. Hulle het die huis met onder meer juweliersware, elektriese huishoudelike artikels en skootrekenaars sowel as die eienaar se vuurwapen verlaat en in hul eie voertuig verkas.

Die Vanderbijlparkse polisie doen ‘n beroep op inwoners wie se huise in die mark is, om op hul hoede te wees vir dié soort modus operandi, wat ook al voorheen kop uitgesteek het.

* Die straatnaam en die egpaar se identiteit word weerhou.

 

*****************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button