News

Vyf ure van paniek na vreemde mans ‘n seun in straat oplaai en wegry

Lede van die GPF het die verdagte voertuig agtervolg tot waar dit by ‘n motorhawe op die hoek van McColm- en Curie-boulevard stilgehou het. Die polisie is ontbied, waarna die insittendes en die voertuig poisiestasie toe geneem is vir verdere ondersoek.

VANDERBIJLPARK. – “Ons is nog nie regtig oor die skok nie. Dit gaan nog ‘n rukkie vat maar ek is net baie dankbaar my kind is veilig.” Só sê die ma van ‘n 13-jarige seun wat Sondag, 6 Februarie, verdwyn het toe drie onbekende mans hom in die straat opgelaai en met hom weggery het.

Die seun se ma, Magriet, sê hy het die middag by maats in CW6 gaan speel. Toe hy teen 18:00 nog nie tuis was nie, het sy bekommerd geraak en hom by sy vriende gaan soek.

Sy het paniekerig geraak toe sy by hulle hoor dat hy die laaste keer gesien is waar mense wat ‘n voertuig in Darbystraat, CW6 gesleep het, by hom gestop en sy hulp gevra het. Hy het glo in een van die voertuie geklim en saam met die onbekende motoriste weggery. Sy maats het nie geweet dat hy toe nooit by sy huis opgedaag het nie.

Sy ouers is omstreeks 19:15 polisiestasie toe om hom as vermis aan te meld. Die gesin was in daardie stadium mal van bekommernis. Kennisgewings is dadelik op Facebook geplaas om te sê dat daar na die seun en twee voertuie, ‘n silwergrys Volkswagen Polo en ‘n wit Sentra, gesoek word.

Buurtwagte, die Community Support Forum (CSF) sowel as lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (CPF) se Sektor 1 en 2 (CW- en CE-areas van Vanderbijlpark) het ook daarvan te hore gekom en die lede het begin mobiliseer.

Volgens me. Leana Gough-Killick van die CSF, is inwoners in Darbystraat waar die seun vermis geraak het, besoek en meer inligting is ingewin. “Daar het inligting na vore gekom oor wie die bestuurder van die Polo moontlik kon wees en ‘n meer gedetailleerde  beskrywing van die voertuig is sodoende bekom,” sê sy.

Net na 22:00 die aand is ‘n Polo wat aan die beskrywing voldoen het, deur lede van Sektor 2 CPF in Goodyearstraat opgemerk. Die voertuig is agtervolg en daar is gesien hoe ‘n jong seun by ‘n huis in Darbystraat afgelaai word. Die Polo het onmiddellik weggery. Van die CPF-lede het by die huis agtergebly en bevestig dat dit wel die vermiste seun was. Ander CPF-lede het voortgegaan om die Polo te agtervolg.

Terwyl Magriet en haar man nog tot laat die aand by die polisiestasie gewag het, het die seun se ouma die goeie nuus laat weet dat hy veilig by die huis is. Dit was meer as vyf ure nadat hy verdwyn het.

Lede van die GPF het die verdagte Polo intussen steeds agtervolg tot waar dit by ‘n motorhawe op die hoek van McColm- en Curie-boulevard stilgehou het. Die polisie is ontbied en die insittendes – twee Nigeriërs en ‘n man van Indiese afkoms – sowel as die Polo is na die polisiestasie geneem vir verdere ondersoek.

Magriet sê sy wil steeds graag weet wat die verdagtes se plan met haar seun was. “Die mans was agterna vol verskonings omdat hulle ons seun sonder ons medewete opgelaai het. Al was dit dalk onskuldig, is ek baie kwaad. Mens kan mos nie net ‘n kind vat en wegry nie. En waarom het hulle hom nie tot by ons huis gebring nie maar ‘n ent van ons huis af afgelaai? Dis mos verdag,” sê Magriet. 

Die mans was blykbaar met die seun Vereeniging toe.

“Ek sê dankie Vader my kind is by die huis. Ek weet baie mense het gebid. Ons sê ook baie dankie aan almal wat ons die aand bygestaan en help soek het,” sê Magriet.

* ‘n Covid- en dwelmtoets is intussen op die seun gedoen en hy ontvang ook berading deur ‘n sielkundige by sy skool. Me. Gough-Killick raai ouers aan om hul kinders daarop bedag te maak om nie saam met vreemdes in ‘n voertuig te klim of hulle te “probeer help” sonder hul ouers se medewete nie. “Hierdie situasie kon heeltemal anders geëindig het,” sê sy.

FOTO – Die 13-jarige seun wat verlede week in verdagte omstandighede in ‘n straat waar hy gespeel het, opgelaai is en eers vyf ure later naby sy ouerhuis afgelaai is.

********************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button