News

Nelius se verdwyning en dood steeds ‘n raaisel vir sy geliefdes

Nelius is met 'n steekwond aan sy nek in sy onlangse model Renault in die mielielande op 'n plaas aangetref.

VANDERBIJLPARK. – Vier weke nadat Nelius Jacobs (36) verdwyn het en sy liggaam later in Heidelberg gevind is, soek sy familie steeds antwoorde oor wat daardie tragiese nag gebeur het.

Sy ouers, Giel en Annetjie Jacobs, is verpletter oor die dood van hul jongste kind. Ook vir sy broer Anton en suster Cornea lê die smart nog vlak. “Alles is nog ‘n raaisel,” sê Cornea.

Nelius, wat by Waterways in Vanderbijlpark gewerk en saam met sy ouers in die dorp gebly het, is die aand van 20 Januarie deur sy pa as vermis aangemeld. Dit was nadat hy na werk nie huis toe gekom het nie en niemand van sy kollegas of vriende geweet het waar hy was nie. Dit was uiters ongewoon dat Nelius sou wegbly sonder om te laat weet.

“Ons kon aflei dat sy motor die laaste keer omstreeks 17:30 by die Barrage gesien is. Sy baas en beste vriend asook my pa en die polisie het begin soek. Die soektog het tot 12 uur die nag aangehou maar Nelius is nie gevind nie. Ek het sy verdwyning intussen ook op Faceboek bekend gemaak en almal het help soek. My pa was die nag nog by die polisiestasie toe die Heidelberg-polisie laat weet het dat hulle Nelius se liggaam gekry het. My ouers moes Heidelberg toe ry om hom te gaan uitken. Dit was hartverskeurend,” sê Cornea. Nelius is in sy onlangse model Renault in ‘n plaas se mielielande aangetref. Hy het ‘n steekwond aan sy nek gehad.

Nelius is in 1985 in Vanderbijlpark gebore en het aan Laerskool Vaalrivier skoolgegaan. In sy hoërskooljare was hy ‘n leerling van ‘n Christelike privaatskool en het later aan Hoërskool Transvalia en Hoërskool Vanderbijlpark skoolgegaan.

I

n boodskappe wat na sy dood ontvang is, beskryf sy vriende hom as ‘n stillerige mens, maar sy lus vir die lewe was aansteeklik. “Hy het lewe in enige vertrek ingeblaas. Dit was net lekker om rondom hom te wees en almal wou by hom wees,” lui een van die boodskappe. Sy familie het altyd eerste gekom en die respek wat hy vir sy ouers gehad het, was ‘n voorbeeld vir almal.

“Nelius was altyd so positief. Hy het altyd die beste van ‘n situasie gemaak, goed of sleg. Hy sou uit sy pad uit gaan vir sy hartsmense. Hy wou so graag trou en kinders hê maar nou sal ons daardie besluit nooit kan neem nie,” sê sy eksverloofde (naam weerhou), aan wie hy drie jaar verloof was voordat hulle dit verbreek het. Hulle het hul verhouding kort voor sy dood hervat. Buiten sy groot voorliefde vir motors en kosmaak was hy ook mal daaroor om saam met sy familie of vriende na TV-reekse te kyk.

* Die polisieondersoek in verband met sy dood is nog aan die gang en ‘n verslag daaroor sal na verwagting binnekort uitgereik kan word.

 

Wyle Nelius Jacobs.

 

‘n Blou Renault, soortgelyk as die een waarin Nelius met ‘n noodlottige steekwond aan sy keel in ‘n mielieland aangetref is.

************************************************************************************

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button