SASOLBURG. – Dit is nie vir almal beskore om hul nageslag tot in die vyfde geslag te sien grootword en boonop die energie te hê om aktief deel van hul lewens te wees nie. Dit is wel die geval vir mev. Bettie Esterhuizen van Sasolburg, wat binnekort haar 92ste verjaardag vier.
Bettie is nie jou alledaagse groot-groot-oumagrootjie nie. Sy hou haar besig met verskeie interessante aktiwiteite en is net so kundig met WhatsApp soos die tieners in haar nageslag!
Bettie is in 1930 in die destydse Rhodesië as die oudste van 15 kinders gebore. Sy en haar oorlede man, Hendrik, het in 1967 na Suid-Afrka geïmmigreer, waar hy tot met sy aftrede by Eskom gewerk het. Hy is in Julie 1992 op ouderdom van 67 oorlede, maar die egpaar se vyf kinders, 13 kleinkinders, 20 agterkleinkinders en drie agter-agterkleinkinders dra steeds hul gene die toekoms in.
Van hul vyf kinders woon die oudste seun in Vanderbijlpark, twee dogters in Sasolburg, een dogter in Delmas en die jongste seun in Engeland. Buiten vir die jongste seun is almal al afgetree.
Bettie is steeds selfversorgend en woon in ‘n tuinwoonstel by haar dogter Sarie en gesin. “My kinders is baie goed vir my en besorgd oor my. Hulle is altyd gereed om te help as ek hulle nodig het,” sê sy.
“Ek is baie geseënd met goeie gesondheid. My gehoor is nie meer so goed nie maar my sig is nog goed. Ek is baie lief vir kosmaak, bak en konfyt kook. Ek is ook lief daarvoor om die kinders met lekker etes te onthaal. Ons is ‘n baie hegte familie,” sê Bettie.
Sy het net verlede week die agtste kindertruitjie op haar breimasjien voltooi. Drie is vir kleingoed in haar familie en vyf is vir ‘n kinderhuis in Kriel, waar haar broer se dogter werk. Sy probeer om elke jaar ‘n paar truitjies vir hulle te brei.
Hoewel Bettie se ouers albei op die ouderdom van 73 oorlede is, is daar ‘n paar mense in haar voorgeslagte wat hoë ouderdomme bereik het, soos haar oupa wat tot 98 geleef het, en een van sy broers wat net drie maande voor sy 100ste verjaardag gesterf het.
“As dit die Here se wil is word ek op 1 April 92 en die kinders reël ‘n famieliebyeenkoms waar die broers, susters, neefs en niggies weer lekker kan saamkuier,” sê sy.



