News

Prokureur Piet Uys vier 50 jaar as regspraktisyn

Dié alsydige regspraktisyn se werksetiek en lewensbeskouing het tot dusver in sy 50 diensjare ongetwyfeld ‘n blywende indruk op elkeen van sy kollegas, personeellede en gesinslede gelaat.

VANDERBIJLPARK. – Om mnr. Piet Uys as regsgeleerde op te som, is eenvoudig: Eerlik, bekwaam, toegewyd, belese en professioneel. Só sê sy eertydse vennote, kollegas en vriende saam met wie hy die afgelope 50 jaar ‘n pad in die Regswese gestap het.

Mnr. Uys se halfeeu-mylpaal van diens aan wat hy as “my eerbare professie” beskryf, is op 17 Februarie met ‘n middagete by die Shakespeare Inn in Vanderbijlpark gevier – presies 50 jaar nadat hy op 17 Februarie 1972 in die Bloemfonteinse Hooggeregshof as prokureur toegelaat is.

Piet is op 17 September 1937 in Groblersdal gebore maar die gesin het kort daarna na Johannesburg verhuis, waar hy in nederige omstandighede in Malvern grootgeword het. Sy pa, Jan, was ‘n bouer wat uiteindelik die voorman was met die bou van die bekende Ponte-wolkekrabber langs Ellispark. Piet se oupagrootjie (ook Pieter Gysbert Steyn Uys ) was in Paul Kruger se Volksraad en het saam met Kruger uit die land gevlug met die Britse oorname. Na skool het Piet aanvanklik by die Department van Arbeid in Vereeniging kom werk. Hy het deeltyds aan Unisa studeer terwyl hy ‘n vyf-jaar leerkontrak onder mnr. Johan Kriek in Zastron in die Vrystaat voltooi het. Sy geskiedenis as regstudent, kandidaatprokureur en prokureur is gekenmerk deur totale toewyding, eerlikheid en hoë werksetiek.

Nadat Piet in 1973 by Rooth en Wessels Prokureurs in Vanderbijlpark aangesluit het, het hy vinnig ‘n florerende en besige praktyk opgebou en gou bekend geword as ‘n uitmuntende en etiese praktisyn. Hy is mettertyd ook as aktevervaardiger en notaris toegelaat en het deurentyd ‘n reuse- en uiteenlopende algemene praktyk bedryf, iets wat in vandag se wȇreld van superspesialisasie ongekend is.

Sy vennote, sy professionele personeel en die regbank ken hom as ‘n toegewyde regsgeleerde, bekend vir sy deeglike voorbereiding en sy besonderse praktiese aanvoeling vir regsbeginsels. By Rooth en Wessels was hy bekend as die bron van regspraak en legendaries vir nalees en notering van regsverslae op handgeskrewe poskaartgrootte kaarte, wat ‘n kosbare kleinood van inligting was, ten spyte van die gebruik van elektroniese regsverslae.

Piet is in 1963 met sy Vrystaatse nooi, Petro van Niekerk, getroud. Hulle was 58 jaar saam toe sy in 2021 oorlede is. Drie seuns is uit die huwelik gebore: Christo, (gebore in 1966 ) is ‘n regspraktisyn in Vereeniging; Piet (gebore in 1971) is ‘n regspraktisyn in Johannesburg en Dirk (gebore in 1976), ‘n bou-aannemer in die konstruksiebedryf. Piet en Petro was jare betrokke by ringtennis en buiten voorsitter van die Vaaldriehoek Ringtennis-unie, was hy ook ‘n nasionale keurder. Die egpaar was van 1977 af deurgaans betrokke by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid, waar Piet lank die leierouderling was.

Tydens die viering van sy 50 jaar in die Regte is Piet nie net deur sy vriende en kollegas vereer nie – hy het self ook hulde gebring aan en staaltjies gedeel oor kollegas, personeel en landdroste wat karakters in eie reg was. Hy het ook verwys na die groepsetiek, werksetiek en regsetiek wat Rooth en Wessels deur die jare gekenmerk het. Name soos Eugene Beyleveld, John Clayton, Tonie van Tonder, Steve Ferreira, Piet Voges en Jaco Hill is verskeie kere genoem terwyl Vanderbijlpark en Rooth en Wessels se ryk regsgeskiedenis in herinnering geroep is. Piet stel ywerig belang in Suid-Afrikaanse politiek en geskiedenis en lees steeds wyd – fiksie sowel as nie- fiksie. Hy praktiseer steeds vanaf sy woning in Beethovenstraat as konsultant in diens van Piet Uys Ingelyf en sȇ hy sien kans om so voort te gaan tot hy minstens 100 jaar oud word. Hierdie mylpaal is immers net 15 jaar weg! Dié alsydige regspraktisyn se werksetiek en lewensbeskouing het tot dusver in sy 50 diensjare ongetwyfeld ‘n blywende indruk op elkeen van sy kollegas, personeellede en gesinslede gelaat.

 

Oudkollegas van prokureur Piet Uys sr. en van sy vriende uit die regsberoep het onlangs sy 50 jaar as praktiserende prokureur saam met hom gevier. Voor van links is sy seun Christo Uys, Piet Uys sr., sy seun Piet Uys jr. en Piet Voges. Agter van links is Dirk Uys, Jaco Hill, Liam Greeff, oudlanddros Willie Strydom en Stephan Oberholzer. Foto: Retha Fitchat
Piet Uys

*********************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button