Nuwe modus operandi: Inbrekers gooi honde met suur
Dit is glo nie die eerste aanval van dié aard nie. Nog ‘n Vaalweekbladleser het intussen laat weet haar dogter se honde is onlangs ook met suur gegooi.

SASOLBURG. – Diereliefhebbers het met woede gereageer nadat ‘n video onlangs op Vaalweekblad Facebook geplaas is van vermeende inbrekers wat skynbaar suur op twee honde probeer uitgiet.

Op die video, wat op 17 Februarie deur me. Lizette Delport geplaas is, kan gesien word hoe ‘n voertuig voor ‘n huis stop en ‘n man met ‘n bottel in die hand by die erf se hek indraf. Daar kan dan gesien word hoe hy die inhoud van die bottel op twee honde probeer uitgooi.
‘n Tweede vermeende inbreker kom by die hek in en albei verdwyn ‘n paar sekondes van die beeldmateriaal af voordat hulle weer te voorskyn kom. Een van die mans probeer weer onsuksesvol om die oorblywende inhoud van die bottel in die honde se rigting te gooi. Albei mans hardloop dan weg, gevolg deur die blaffende honde. Volgens Lizette is die geslotebaan-videomateriaal by vriende se huis in Fischerstraat, Sasolburg geneem.
“Ons vriend was by die huis toe hulle die deur oopgebreek en hom gesien het. Hulle het die honde en ons vriend met suur probeer gooi en gevlug,” sê sy. Die aanvallers het in hul ligblou Toyota Corolla weggery. Die man en sy honde is blykbaar nie in die voorval beseer nie.
Dit is glo nie die eerste aanval van dié aard nie. Nog ‘n Vaalweekbladleser het intussen laat weet haar dogter se honde is onlangs vergiftig en ook met suur gegooi. “Twee het dit nie gemaak nie en die derde een is nou al weke in ‘n dierekliniek om te herstel, maar daar is nog ‘n lang pad voor,” sê sy.
Dr. Letitia Swartz, ‘n veearts van Sasolburg, sê daar is gelukkig nog geen sulke gevalle by hul dierekliniek aangemeld nie. Honde-eienaars word aangeraai om hul hekke gesluit te hou en indien moontlik, hul honde tot ‘n deel van die erf te beperk waar hulle nie van die sypaadjie af met suur of ander chemiese middels gegooi kan word nie.


******************************************************************************************

