Babalykie op sypaadjie – ‘Moenie oordeel as jy nie self daar was nie’
Voormalige dwelm- en seksslaaf vra dat die publiek simpatie vir die dooie babatjie se ma moet hê.

Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 2 Maart 2022 – Lees ook die onderhoud heel onder met ‘n vrou wat vir 8 maande ‘n dwelm- en seksslaaf in die mag van ‘n “druglord” was.
Afsku na babalykie op sypaadjie gevind is Waarskuwing: Die berig bevat inhoud wat sensitiewe lesers kan ontstel.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Polisie-ondersoek is steeds aan die gang om vas te stel wie ‘n pasgebore baba of fetus se oorskot op Sondag, 20 Februarie, op ‘n sypaadjie in ‘n Vanderbijlparkse woonbuurt gelos het. Die grusame vonds is die oggend omstreeks 11:00 deur ‘n voetganger gemaak, wat ‘n inwoner van die area is. Sy het die Gemeenskapspolisiëringsforum op ‘n WhatsApp-groep gevra om die polisie te kontak. Die lykie het onder ‘n boom op die hoek van Becquerelstraat en Hertz Boulevard naby Coco Palms gelê.
Dit was pikswart en inmekaargetrek, wat omstanders laat vermoed het dat die baba verbrand is. Nuus oor die voorval het die Sondag hewige reaksie op Vaalweekblad se Facebook-nuusblad en -groep ontlok en baie lesers was met afsku vervul dat iemand, dalk selfs die ma, so harteloos kon wees om dit aan ‘n baba te doen. Sersant Gertrude Makhale van die Polisie se kommunikasieafdeling het later daardie week aan Vaalweekblad gesê daar is intussen vasgestel dat die baba of fetus nie verbrand is nie, maar dat die hele lyfie met ‘n dik laag bloed wat reeds swart geword en verhard het, bedek was. Dit het dus op die oog af na ‘n verbranding gelyk met verkoolde vel wat begin afdop het.
Sersant Mahhale sê die polisie ondersoek ‘n saak van verberging van dood. Die ma of die mens/e wat die lykie op die sypaadjie neergesit het, is nog nie opgespoor nie. Die area waar die oorskot gevind is, is redelik na aan die gebied wat as “Little Nigeria” bekendstaan en veral met dwelmmisbruik en prostitusie verbind word. Volgens ‘n inwoner van die area, mev. Marinda van der Merwe, sien sy hoe die omstandighede by die dag versleg. “Ons bly al so lank hier maar ek kan nie meer hier woon nie. Dankie tog, ons trek einde Maart hier weg.”
Mev. Louise Muller, wat ook goed bekend is met die inwoners en die dramas wat daagliks daar afspeel, sê sy het eerstehandse kennis van die verslaafdes en prostitute wat in aaklige omstandighede daar woon. “Vir hulle beteken ‘n kind R350 se staatsgeld vir dwelms en verder gee hulle nie om nie. Hulle gee net om vir die volgende dwelm-fix.” Enigiemand met inligting oor wie die lykie op die sypaadjie neergesit het, word versoek om die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Mokoena, by (016) 910 9021 te skakel.
‘Moenie die ma vervloek nie, probeer verstaan,’ vra oud-prostituut ‘n Jong vrou wat in 2014 vir agt maande in ‘n nagmerrie van dwelms en prostitusie in Johannesburg vasgevang was, sê hoewel sy nooit in Vanderbijlpark gewerk het nie, vermoed sy die dooie baba wat in die dorp gevind is, se ma is ‘n dwelm- en seksslaaf. Sy het haar eie skokkende verhaal aan Vaalweekblad vertel op voorwaarde van anonimiteit.
“Ek is in ‘n huis van uiterste drankmisbruik en verwaarlosing gebore en is as sesjarige na ‘n plattelandse kinderhuis gestuur. Daar het ek as bruin kind ‘n baie goeie opvoeding gekry, hoofsaaklik saam met wit kinders. Ek het bittermin kontak met my ouers gehad. Albei is later oorlede en na skool is ek alleen Johannesburg toe. Ek het ‘n vaste werk as kok by ‘n restaurant gekry, maar was eensaam en het in ‘n dwelmslagyster getrap. Dinge het vinnig uitmekaar geval. Op die ouderdom van 19 was ek so verslaaf en so diep in die skuld dat ek voltyds as prostituut vir my druglord moes gaan werk.
“Buiten ekself, nog ‘n bruin meisie en twee wit meisies, was daar nege swart meisies wat vir hom gewerk het. Die jongste was maar 14 jaar oud. Ons was almal saamgebondel in twee woonstelle langs mekaar op die sesde verdieping. Mens verloor jou identiteit heeltemal. Jou druglord vat jou ID-dokument en jou selfoon af en vereis dat jy 24 uur per dag vir hom en sy kliënte beskikbaar moet wees. In ruil kry jy ‘n dak oor jou kop, kos, drugs en die noodsaaklikste klere. As jy siek voel en nie kan werk nie, word jy geskop en geslaan tot jy ‘regkom’. Na ‘n paar weke voel jy nie meer pyn of emosie nie. Jy haal net asem en leef net vir die oomblikke wanneer jy drugs kry… dan vergewe jy die druglord álles. As ‘n meisie parmantig was of kla, is sy vir ‘n dag lank sonder kos of drugs in ‘n kas toegesluit. Van die vroue wie se kleuterkinders by familie gewoon het, is gewaarsku dat hulle in hul spoor moet trap anders sou hul kinders as seksslawe of vir snuff movies gaan haal en verkoop word. Ons was almal vreesbevange daaroor.
“Die keerpunt het vir my gekom toe ek swanger raak. Ek het dit probeer wegsteek want ons baas se opdrag was om seker te maak dit gebeur nie, anders word jy gedwing om ‘n agterstraat-aborsie te laat doen. Hy sou ons nie na ‘n staatshospitaal toe laat gaan nie… te bekommerd ons praat uit. Ek het elke dag besluit vandág gaan ek uit die venster spring, maar elke keer as ek afgekyk het, het ek te bang geword. Ek was al amper vyf maande verwagtend toe hy dit uitvind. Hy het my gevloek, met die vuis geslaan en my so erg teen my maag en rug geskop dat ek ‘n dag later ‘n miskraam in die badkamer gehad het. Daar was komplikasies en ek het aanhou bloei. Ek was regtig in ‘n slegte toestand. Van die meisies het by hom gepleit om my na ‘n groot staatshospitaal daar naby te mag vat. Die druglord het uiteindelik ingestem want hy was seker bang ek gaan dood en dan sit hy met my lyk. Ek het in ‘n beswyming daar aangekom en onthou min van die eerste week. Die meisies het vir die hospitaal gejok en gesê ek het van die trappe afgeval.
“Die pyn en die onbeskryflike behoefte aan drugs het my laat hallusineer en deur hel laat gaan. Die hospitaalpersoneel moes my aan my bed vasbind sodat ek myself nie verder beseer nie. My redding het in die vorm van twee aardse engele gekom: ‘n Pastoor en sy vrou wat berading in die hospitaal gegee het. Hulle het my onder hul vlerk geneem, behoorlike behandeling vir my gereël en my gehelp om die lang pad na bevryding te begin stap.
“Vandag, agt jaar later, is ek gelukkig getroud en die ma van twee dogtertjies. Ek bly nou weer op die platteland, 180 km van die stad af en het nog nooit weer aan dwelms geraak nie. “Ek en my man, ook ‘n gerehabiliteerde dwelmslaaf wat nou vir die Here werk, besef hoe gevaarlik dit steeds is en dat ons in ‘n oogknip weer sal kan terugval. Ons glo dit gaan ‘n lewenslange stryd wees, maar met aanhoudende gebed en die liefde vir ons kinders raak dit makliker. My grootste wens is dat ouers hul kinders van kleins af oor die gevare van dwelms moet vertel. Jy word vernietig as jy in daardie wêreld beland. “Dit breek my hart dat mense die dooie baba se ma so vervloek het op Facebook. Niemand mag oordeel as jy nog nie self daar was nie. Glo my, dis hel!”

