News

Dringende operasie nodig om Danika beweeglik te hou

Enigiemand wat bereid is om ‘n bydrae te maak sodat Danika ‘n dringende operasie kan kry om haar beweeglikheid te behou, kan mev. Diedericks by 072 360 1742 kontak.

VANDERBIJLPARK. – Wanneer Danika Hoffmann sit en skool-skool speel, lyk sy soos enige gesonde 10-jarige meisie, maar wanneer sy opstaan om te loop, is dit duidelik dat sy in groot pyn is.

Danika, ‘n graad 4-leerling aan die Laerskool Totius, het haar een knie sowat drie maande gelede beseer toe sy geval het. Byna gelyktydig het sy ook ‘n onverklaarbare pyn in haar heupe begin kry.

Vir haar ouers, Armand en Vlutassja Hoffmann van Northdene, is dit kommerwekkend om te sien dat hul dogter die afgelope maande met ‘n waggelstappie begin loop het en toenemend in pyn is. Die egpaar het nie ‘n mediese fonds nie en het haar aanvanklik na die Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark geneem, maar geen fout kon gevind word nie.

Haar oumas, Katrien Diedericks en Bennina Louwrens, het geweet hul spontane kleindogter wat normaalweg ‘n bondeltjie energie is, verbeel haar nie dat sy pyn het nie. Ouma Bennina het gereël dat Danika verlede week deur ‘n privaatdokter by Mediclinic Emfuleni ondersoek word. Hy was dadelik bekommerd en het uit sy eie sak betaal vir x-strale sodat hy kon vasstel wat presies verkeerd is. Die x-strale het getoon dat albei Danika se heuppotjies inderdaad abnormaal is en die dokter het voorgestel dat dit so gou as moontlik met ‘n operasie reggestel moet word.

Hy is selfs bereid om die operasie gratis te doen, maar die gesin sal self moet betaal vir die narkose, die teater en haar hospitaalverblyf, sowel as vir die duur skroewe wat in haar heupe ingeplaas moet word. Die gesin sal die bedrag in dié stadium nie kan bykom nie.

Volgens Ouma Katrien is Danika ‘n kind met ‘n sagte hart en ‘n ware moedertjie teenoor haar tweelingboetie en -sussie wat in November verlede jaar gebore is. “Sy is lief vir inkleur en juffrou-juffrou speel. Ons kry haar so jammer as ons sien hoe sy sukkel om oor die weg te kom met haar hinkepink-stappie,” sê Katrien.

Enigiemand wat bereid is om ‘n bydrae te maak sodat Danika ‘n dringende operasie kan kry om haar beweeglikheid te behou, kan mev. Diedericks by 072 360 1742 kontak.

Danika Hoffmann (10) is die afgelope maande in pyn weens ‘n probleem met haar heuppotjies, wat dit toenemend moeilik maak om te loop.

 

********************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button