LifestyleNews

Dr Daan tree uit, maar gaan nog lank nie stilsit nie

Dr. Daan Humphris raak rustiger na 46 jaar in mediese beroep

VANDERBIJLPARK. – Een van die Vaaldriehoek se bekende en geliefde mediese dokters, dr. Daan Humphris, tree nou uit na 46 jaar in die beroep en meer as 34 jaar van aktiewe diens in die Vaal.

Dié hardwerkende dokter het deur die jare onder andere by Vaalmed, die voormalige Vanderbijlpark-hospitaal (nou Johan Heyns-kliniek), Mediclinic Vereeniging, Mediclinic Emfuleni, Midvaal-hospitaal, Vaalpark-hospitaal en Cormed gewerk.

Sy pasiënte het hom in 1988 as ‘n toegewyde dokter leer ken toe hy by die destydse Vaalmed aangesluit het. In 1992 het dr. Albert Niemann se praktyk hom genader om daar aan te sluit en in 1994 het hy ook die pos as Distriksgeneesheer in Vanderbijlpark en Sebokeng by dr. Niemann oorgeneem toe hy uit die Vaaldriehoek verhuis het. Dié posbenaming het mettertyd verander na Geregtelike Patoloog en in 2005 het dr. Daan ook die leisels as Geregtelike Patoloog in Sasolburg oorgeneem.

In 2006 het hy die ewe bekende traumadokter, dr. Johan Schutte, genader om hom met die omvattende patologiewerk by te staan, waarna dr. Schutte die taak in Sebokeng oorgeneem het.

Die private praktyk waar dr. Humphris sedert 1992 betrokke was, het in 2011 met Cormed saamgesmelt.

Hoewel dr. Humphris nou as mediese praktisyn uittree, beplan hy en sy vrou, Louise, om in die Vaaldriehoek aan te bly. Hy gaan ook steeds betrokke bly by geregtelike patologiewerk in Sasolburg, wat ‘n groot gebied van die Vrystaat insluit.

“Ek het soveel goeie herinneringe aan al die bekwame kollegas en verpleeg- en praktykpersoneel in al die hospitale in die Vaaldriehoek – mense wat daagliks klippe uit my pad gerol het, op wie ek regtig kon staatmaak. Hulle het almal deel van my menswees geword het. Hul waarde is ver bo korale.

“Een van hulle met wie ek heg saamgewerk het is dr. Jaco de Clercq, wat steeds ‘n goeie vriend is. Ek kan nie almal by die naam noem nie, maar bring graag hulde aan elkeen wat ‘n groot verskil in my lewe gemaak het. Ek gaan hulle regtig mis, maar dit is vir die regte redes dat ek nou uittree en bietjie rustiger gaan word,” sê hy.

Hy bedank ook al sy lojale pasiënte van die afgelope 34 jaar wat hy hier gepraktiseer het. “Hulle was meer as net pasiënte vir my. Hulle het vriende geword. Ek waardeer elkeen van hulle en kan hulle verseker dat hulle in baie bekwame hande by die praktyk oorgelaat word.”

Dr. Daan se kollegas het hom reeds bespreek om vir hulle te locum gedurende hul vakansietye. Hoewel hy dit graag sal doen soos wat tyd en omstandighede dit toelaat, wil hy eers vir so twee maande ontspan. Hy sal ook graag meer tyd aan sy stokperdjie wil wy om al die skoenlapperspesies in Suid-Afrika te versamel.

 

CORMED SPREEKKAMERS HET DIé MOOI BOODSKAP OP FACEBOOK GEDEEL:

Ons neem afskeid van ‘n geliefde en bekwame dokter, kollega en vriend.
Dr Daan Humphris het 46 jaar van sy lewe met passie en toewyding, gewy aan sy beroep en sy geliefde pasiënte.
Dok Daan jy is ‘n briljante toegewyde dokter en ons by Cormed eer jou daarvoor. Jy het jou roeping as dokter ten volle uitgeleef en diep spore getrap by Cormed.
Ons gun jou ‘n rustige aftrede saam met jou geliefde vrou Louise en jul pragtige kinders en kleinkinders.
Ons span by Cormed wens jul seën toe vir jul nuwe lewensfase! Jul verdien dit en die Cormed span en jou pasiënte gaan jou mis. Ons salueer jou!

Foto – Dr. Daan Humphris en sy vrou, Louise.

  ********************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button