News

Pa van drie jong kinders erg beseer in botsing met trok op R59-snelweg

Bennie Gordon moet doodstil op sy rug lê na besering aan sy nekwerwels

Eerste pulikasiedatum: 9 Maart-uitgawe van Vaalweekblad

VANDERBIJLPARK. – ‘n Botsing op die R59-snelweg het verlede Maandag in een oomblik die blink toekoms van ‘n jong pa, mnr. Bennie Gordon, in ‘n nagmerrie van pyn en onsekerheid verander. Dié eienaar van ‘n eenman-transportonderneming van Vanderbijlpark, het ernstige nekbeserings opgedoen toe hy op 28 Februarie in die reën in ‘n botsing betrokke was.

Volgens sy vrou, Wilmarie, was Bennie omstreeks 17:00 die middag met hul bakkie wat hy vir sy transportwerk gebruik, op pad Johannesburg toe, toe dit in die reën op die pad gegly en hy beheer daaroor verloor het. Die bakkie is bo-oor die middelmannetjie tot in die aankomende verkeer in, waar dit teen ‘n trok gebots het.

Hoewel Bennie nie lid van ‘n mediese fonds is nie, is hy per ambulans na Mediclinic Vereeniging vervoer, waar hy danksy bydraes van ‘n goeie vriend en familielede opgeneem kon word. Hulle het ook betaal vir noodsaaklike diagnostiese toetse soos x-strale en skanderings, wat getoon het dat twee van sy nekwerwels gevaarlik geskuif het.

“Die dokters het gesê Bennie moet so gou as moontlik ‘n operasie ondergaan, anders gaan hy van sy skouers af verlam wees, maar ons kon nie die koste daarvan in ‘n privaathospitaal bybring nie,” sê Wilmarie. Hy is toe na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas, maar omdat die hospitaal nie die nodige geriewe het om so ‘n gevorderde operasie te doen nie, is hy na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg vervoer. Hoewel die Gordons verseker is dat daar uitstekende chirurge is by wie hy goeie mediese hulp sou kry, het ‘n nuwe krisis daar op hulle gewag.

“Bennie het dae lank daar gelê sonder enige behandeling. Omdat hy doodstil en plat op sy rug moes lê en glad nie gedraai mag word nie, wou geen verpleegster hom in die omstandighede was of met sy toiletbehoeftes help nie. “Hoewel hulle kos en water langs hom neergesit het, kon hy dit nie eet of drink nie omdat hy nie regop kon kom en sy arms kon gebruik om dit by te kom nie. Niemand was bereid om hom te voer nie. “Ek is elke dag daarheen om hom te was en sy bloeiende wonde te versorg. Ek moes ook self die stukkies glas uit die wonde aan sy hande verwyder,” sê sy.

Familie, vriende en mense wat op Facebook van Bennie se terugslag gehoor het, kon teen Vrydag genoeg geld insamel sodat hy na Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark oorgeplaas kon word, waar die noodsaaklike operasie uitgevoer is.

“Ons is so dankbaar vir die hulp, maar ons weet nog glad nie wat die koste vir sy verdere behandeling gaan wees nie,” sê Wilmarie bekommerd.

Bennie is haar en hul drie kinders, onderskeidelik 13, 11 en 6 jaar oud, se enigste broodwinner.

Enigiemand wat bereid is om ‘n geldelike bydrae vir Bennie se behandeling te maak, kan dit inbetaal in die volgende rekening: M. Stone, rekeningnommer: 022118683, Standard Bank, Sasolburgtak.

 

 

Die wrak van Bennie se bakkie na die botsing op 28 Februarie op die R59-snelweg.

 

 

***********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button